BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies
Hasie kom op Olifant in die veld af. "Staan soontoe!" sê hy ewe grootman en begin reg onder Olifant se neus te wei.
"Gee pad, jou klein bog!" sê Olifant vies.
"Moenie so met my praat nie," antwoord Hasie, "want ek is tog sterker as jy."
"Sterker as ek!" roep Olifant uit. "Jy sal jou wat verbeel."
"O ja," sê Hasie. "En as jy my nie wil glo nie, kan ons gerus 'n bietjie toutrek. Dan sal jy wel sien."
"Bring die tou," brom Olifant. "Ek het nou genoeg van jou grootpratery gehad."
"Hier is die tou, sê Hasie, en hy snuffel agter die bossie waar hy dit al lankal weggebêre het. "Hou solank die een punt vas maar moenie trek voor ek 'n plukkie daaraan gee nie."
"Goed," sê Olifant.
Soos die wind spring Hasie daar weg en hardloop na die rivier toe. Hier lê Seekoei op 'n sandbank en slaap. "Kyk net die lomp ou seekoei," koggel Hasie. "Hy is al so vet en lui van al die niksdoen dat selfs 'n haas vir hom te sterk is."
Seekoei maak sy oë oop. "Wat sê jy daar?" grom hy boos.
"Ek sê net wat ek sê – en jy het my goed gehoor. Ek daag jou uit om teen my tou te trek, dan sal jy sien ek praat die waarheid."
"Gee die tou dat ek jou wys!" bulk Seekoei woedend, en hy kom op die been.
"Kom saam," sê Hasie. "My tou lê net daar agter die rantjie."
Hasie woerts-warts vooruit, en Seekoei is op 'n stywe draffie agterna. "Hier is dit," sê Hasie toe hy by die plek kom. "Hou styf vas, en moenie trek voor ek 'n plukkie gee nie."
"Pluk net gou, ek is haastig,"sê Seekoei. " Daar is nog 'n lang stuk slaap wat ek moet inkry voor ek vannag kan gaan wei."
Nou draf Hasie tot reg bo-op die maanhaar van die rantjie, en hy kyk af na Olifant en Seekoei wat aan weerskante staan en wag. Hy lag eers lekker in sy kies. Toe pluk hy, en Olifant en Seekoei val weg.
Dit is vir jou 'n gedoente! Olifant wil sommer aanstap, want hoe sal Hasie hom kan terughou? Maar Seekoei skop vas, en toe begin die trekkery. Olifant ploeë vier sulke vore in die grond. Seekoei se maagvelle skuur eintlik deur soos hy plat lê. So kan dit nie aanhou nie. Nou swik Olifant, en dan laat Seekoei weer skiet. Een sal moet ingee.
"Nee!" sug Seekoei oplaas, en hy tuimel neer. Die tou haak aan sy agtervoet vas, en Olifant sleep hom bo-oor die rantjie.
"Ek het jou mos gesê, Haas," trompetter Olifant verheug. "Ek is sterker as jy!"
Maar toe hy omkyk, is Hasie nêrens te sien nie, net Seekoei.
"Wat's hier aan die gang?" brul Olifant verwoed. "Probeer jy miskien met my gekskeer?"
"Nee, nee!" pleit Seekoei, want hy's nog te moeg om weer regop te kom. "Ek het ook gedog ek trek teen Hasie tou."
"Ek glo jou nie," sê Olifant. "Dis jy en daardie haas wat saam hierdie plan uitgedink het om my te tart, maar gelukkig is ek te sterk." En hy bestorm die arme Seekoei en byt sy stert stomp af. "Laat dit vir jou 'n les wees," sê Olifant terwyl hy slurp omhoog wegstap, "om nooit weer met my soort skoor te soek nie."
Hangoor en baie moedeloos sukkel Seekoei terug rivier toe. Hy was nog altyd so trots op sy mooi krulstert. Toe hy by die water kom en sien hoe al die jong seekoeie met hulle sterte in die lug rondpronk, word hy so kwaad dat hy hulle een vir een byloop en hul sterte morsaf byt soos Olifant met hom gemaak het.
En van daardie dag af het seekoeie nie sterte nie.
Uit Die mooste Afrikaanse sprokies, deur Pieter W Grobbelaar en Séan Verster.