BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies
Kanarie en Kraai kry op 'n dag stry oor wie van hulle die mooiste sing.
"Nee," sê Kanarie eindelik stokflou gebaklei, "dit help nie. Ons moet 'n regter soek."
"Goed," sê Kraai, "ons vra die eerste dier wat ons teëkom."
Hulle vlieg weg en sien Vark in 'n modderpoel lê. Kanarie stel hul saak.
"M-m-m-!" sê Vark. "Sing maar."
Kanarie kantel sy kop agteroor, en hy sing van die son en die goue dag tot al die ander voëls stil word, en die wind gaan lê om te luister, en selfs die ou treurwilger sy takke 'n bietjie lig.
Maar Kraai het langs Vark gaan sit, en hy krap sy rug met sy lang, sterk naels dat Vark "Ê-ê-ê!" van lekkerkry, en hy kras: "Kwa-kwa-kwa!" in sy oor.
"O," sê Kraai sonder om twee maal te dink. :"Kraai sing die mooiste."
Kanarie skud sy kop droewig en sê: "Dit kom daarvan as 'n kanarie toelaat dat 'n vark oor hom regter speel."
Toe sprei hy sy vlerke en vlieg weg.
Uit Die mooste Afrikaanse sprokies, deur Pieter W Grobbelaar en Séan Verster.