SENATORIALE HUMOR

Lees reeks by Aan Stille Waters - Langenhoven

DIE JOODSE BEES EN DIE CHRISTELIKE BEES

As jy parlementêre ligsinnigheid begeer moet jy dit by die jongelinge van die Volksraad gaan soek. In die Senaat natuurlik heers daar stilte en kalme waardigheid. Nou en dan, eenmaal in drie jaar of so word twee oues aan weerskante van die Huis onstuimig teen mekaar, en dan sien jy daar is smorende kole wat nog kan gloei. Selfs flikker daar by uitsondering deur die sombere skemer 'n vlammetjie van 'n grap. By die bespreking van die slag-wetsontwerp het ou meneer Rooi Jan du Plessis, wat ortodoks is netsoos ek en hom nie met allerhande nuwerwetse bogtery ophou nie, 'n toespraak gehou vol treffende ou-wêreldse wendings – die soort toespraak wat jy by Abraham Lincoln en Oom Paul gekry het. Oom Jan, kort en saaklik, pure korrels, geen tyd vir kaf nie, wou maar nie elke slag die vervelige omhaal van woorde gebruik om te praat van 'n bees volgens die Joodse metode geslag nie. Toe het hy kortaf die twee onderskei as die "Joodse bees" en die "Christelike bees."

Een van die beswaarpunte was dat die Jode vrygestel bly om te slag soos hulle wil en te verkoop aan wie hulle wil; en een van die ou aartsvaders het die volgende limmeriek geslinger teen die hoof van Senator Danie Malan, die indiener van die wetsontwerp:

"Dankie, Danie, sê Danie se os -
Van die slagpyn het jy my verlos."
En toe kom daar 'n Jood,
En hy moor die os dood -
En moorvleis bly Danie se kos.