Lees reeks by Aan Stille Waters - Langenhoven
PARLEMENTÊRE SALARISSE
In November 1931 skryf Langenhoven hierdie bespreking oor parlementslede se salarisse wat laat blyk dat die onderwerp van parlementslede se salarisse deur al die jare heen maar 'n netelige sakie is:
Parlementslede is die enigste klas werknemers in die hele samelewing wat die reg en die mag het om die bedrag van hulle eie loon vas te stel na willekeur; as hulle dit seweduisend pond wou maak in plaas van sewehonderd was daar niks om hulle te belet nie. Daarom is dit raadsaam om met hierdie bespreking by die bron te begin. Persoonlik wil ek graag vooraf my spyt te kenne gee dat die parlement nie in die jongste sitting die salarisse van sy eie lede met so tien persent verminder het nie. Dan kon hulle die beleid om nie ander staatsdienaars te salarisse te verminder nie, verdedig het sonder om hulle aan die verdenking van eiebelang bloot te stel. Soos dit nou is, met my onaangeraakte sewe honderd pond vind ek my in 'n skaam posisie wanneer ek die algemene vraagstuk van loonstandaarde op die platform moet bespreek – of in die pers soos nou hier.
'n Parlementslid beklee die wisselvalligste van alle loonbetrekkings. Hy kan te eniger tyd uit sy diens ontslaan word sonder kennisgewing en sonder pensioen. En dan kan hy nie die beroep wat hy intussen verwaarloos het – sy eie besigheid of sy kantoor of sy boerder y – gaan optel en vervat daar waar hy hom neergegooi het nie. Dan laat ons dáár die onderbreking, 'n mens kan dit dikwels byna noem die opbreking van sy persoonlike lewensgang en gewoontes en huislike verhoudings. En ons laat dáár die onkoste van 'n vyf-maande-lange verblyf in die Kaap, en tussen-in die gedurige rondreise in verband met politieke pligte, wat alles nodig is in belang van die staat omdat die volk op rekenskap geregtig is en op hoogte behoort te bly van die behartiging van sy belange.
Maar daar is 'n groter oorweging, en dit is 'n saak van beginsel. As ons lede se salarisse op tweehonderd pond stel, sal die parlement nie leegloop nie. Maar dié wat hom dan vul sal op ander maniere vir hulle vergoeding sorg – daar is geleentheid oorgenoeg. Dit sal die staat nie dan duisende ponde aan wettige besoldiging kos nie maar miljoene aan korrupsie-buit, en die prys van verder sedelike bederf wat met geen miljoene te bereken is nie.
Die eintlike vraag is of 'n parlementslid sewehonderd pond werd is. As daar nie sulke waardevolle dienaars in ons samelewing te kry is nie is dit bitterlik jammer, want dan behoort ons ons volksregering te laat vaar omdat die volk dan nie die manne van genoegsame bekwaamheid en karakter besit om die taak behoortlik te behartig nie. Daar kan vandag parlementslede wees wat nie in daardie betrekking sewehonderd oulap in die jaar werd is nie, byvoorbeeld. Aan die ander kant, uit my bevooroordeelde party-standpunt beskou, sal dit goeie besigheid wees vir die land om sê nou maar aan Generaal Smuts seweduisend pond in die jaar te betaal om uit die parlement weg te bly. Dit gaan maar op hierdie gebied soos oral elders. Die diens van 'n volksverteenwoordiger is omtrent die verantwoordelikste in die hele samelewing – gewigtiger as dié van direkteure en bestuurders van groot private firmas. As die kiesers donkies wil aanskaf teen perde se pryse, sal hulle dit maklik genoeg regkry. Maar dan moet die volk maar tevrede wees dat hy hom deur die stembus self aan wanregering oorgee.
Hierdie beginsel – soos ook die vorige gemelde van versekering teen korrupsie – geld vir alle staatsamptenare en dienaars. Ons sal regters kan kry teen driehonderd pond en departementele staatshoofde en magistrate teen tweehonderd en laer klerke teen sestig. Maar, my vriend, as jy in 'n ernstige regsproses gewikkeld is , soek jy die goedkoop advokaat? As 'n dodelike kwaal jou dreig, gee jy voorkeur aan die goedkoop dokter? As jy 'n belangrike besigheid aan 'n ander moet toevertrou, tel jy die eerste die beste janrap op die straat op? Waarom dan gun jy jou land 'n slegter diens as wat jy vir jou persoonlike belange eis?
En dit bring ons tot die vergelyking wat voor die hand lê, tussen die posisie van die staatsamptenaar en dié van onafhanklike beroepsman en vakman. Die dokter, landmeter, enjinier, prokureur, advokaat, handelaar, ambagsman, fabrikant, boer, kan ongelukkig wees maar hy het die kans om ryk te word. Die amptenaar moet tevrede wees om te bly waar hy is. In tye van bloeiende welvaart, wanneer geld volop en goedkoop is, moet hy maar sien om uit te kom met sy gedepresiëerde inkomste. In tye van skaarste wil ál die ander op hom afklim. Maar ons het met hom 'n kontrak gemaak, nie by die maand of by die jaar nie, maar by die lewenstyd. Toe hy nog as kind en jongeling besig was om hom voor te berei vir sy latere plek in die samelewing, het ons aan sy vader die vooruitsig voorgehou: soveel opleiding, soveel diens, en dit sal die loon wees en so sal dit trapsgewyse styg, en so en so sal die pensioen op die einde van sy dienstyd wees; terwille van daardie sekerheid, laat hom afsien van sy kanse op groter voordele elders. Hoe kan ons nou agterna kom, wanneer hy nie kan teruggaan en anders kies en van vooraf begin nie, en die basis van besoldiging wat ons self gestel het verander net omdat ons die mag van kontrakbreuk in ons hande het wat ander kontraktante nie het nie? Sal toekomstige moontlike aspirante vir die staatsdiens ons woord vertrou wanneer ons aansoeke vra en vooruitsigte voorhou? Sal ons nie moet tevrede wees met die soort wat hulleself nie kan help en ons diens aanvaar as die laaste toevlug nie?
Dit het ons bietjie afgebring van suiwer morele oorwegings. Laat ons dan maar nog verder afdaal en na die besigheidskant van die saak kyk. Beskou die verhouding van die staat tot sy dienaars as 'n gewone saak van werkgewer met allerlei wedywerende en teenstrydige belange wat by wyse van belasting en andersins in die besoldiging van die werknemers moet voorsien. Die boer, sê nou, of die fabrikant. In antwoord op die argument dat die vermindering van salarisse die koopkrag van die verbruikers sal verswak, kan die produsent sê: daardie mense sal nie ophou om skoene te dra en brood te eet nie. Goed, as dit dan so is. Maar ons het, deur ons beskermingsbeleid, die prys van die skoene en van die brood tot 'n kunsmatige hoogte opgeforseer. Sonder beskerming sou die koring vandag op soiets as helfte van die bestaande prys staan. En ons het duisende skoendraers en broodeters teen een fabrikant en een boer – almal met gelyke stemme. Waar sal die produsente beland as die verbruikers deur openbare drang of deur die stembus die wetgewing dwing om van sy beleid van beskerming af te sien?
Eintlik hang die beskermingsbeleid saam met ons algemene beleid van onafhanklikheid teenoor buitelande. Ons wil selfvoldoende wees, in ons eie behoeftes voorsien en aan ons eie mense werk gee. Tot so 'n mate het ons daarin geslaag dat ons tiendiusende en nog 'n maal tienduisende van werkloosheid gered het en die belastingbetaler van die las van hulle onderhoud ontslaan het. Maar hierdie onafhanklikheidsbeleid het 'n prys, en daardie prys moet ons betaal. Hoë tariewe beteken noodwendig hoë pryse en hoë lone. Ons kan alleen dan onafhanklik self-onderhoudend wees as ons nie net vir ons produksie nie maar vir ons konsumpsie op onsself staatmaak. Boer en fabrikant moet maar albei hulle eerste aandag aan die binnelandse mark gee en daarna verder kyk na buitentoe.
Hierby moet ons in die oog hou dat die staat as werkgewer 'n regstreekse invloed uitoefen op private werkgewers. Die noodwendige gevolg van salarisvermindering hier sal wees algemene loonverlagings elders: die hele ekonomiese masjinerie werk immers aanmekaar en inmekaar. Dan moet ons die gevolge verwag – stakings en onluste en omwentelinge. Reeds raak die volke meer en meer in sosialistiese rigtings op hol. Daar is genoeg aanleiding uit die omstandighede van swaarkry en gebrek, en genoeg opsweping deur onverantwoordelike demagoë om ons rede te gee om baie-baie versigtig te wees voor ons vir allerlei rewolusioniste water op die meule keer. Uiteindelik is daar maar die een of die ander van twee ekonomiese stelsels moontlik: òf aan die een kant ons bestaande stelsel van vrye konkurensie, elke man se markwaarde volgens sy diens met die aansporing tot die uiterste inspanning vir die uiterste vergoeding; òf anders die slawerny van Russiese kommunisme. En dis nie net vryheid wat vandag in Rusland ondermyn word nie maar menslikheid. Ons het nog ons vryheid van volksregering; so duur as die pand is, so maklik is hy om weg te gooi.
Natuurlik kan tye so abnormaal sleg word dat ons almal tevrede moet wees om ons lewensstandaard te verlaag. En selfs voordat ons afdaal tot toestande van algemene behoeftigheid kan die waarde en koopkrag van geld so verander dat 'n salaris van driehonderd pond vandag gelykstaan met 'n salaris van vierhonderd pond 'n paar jaar gelede. Afslag van salaris kan dan bloot nominaal wees; die inkomste is nie wesentlik verminder nie, netmaar die syfer se naam is verander. Of ons nou vandag in Suid-Afrika daartoe gekom het, is 'n vraag wat vir bespreking vatbaar is – hoewel ons daarby nog sal onthou wat hierbo in verband met die vaste gesalariëerde gesê is, dat ons die voordeel van die een tyd teen die nadeel van die ander tyd in rekening moet bring. Maar gestel dat dit so is, dan is daar iets voor te sê om alle salarisse in gelyke verhouding, of selfs met groter persentasies na boontoe, te verminder. Maar daar is niks voor te sê om een klas vir besondere strafoplegging uit te soek net omdat die betrokke belastinglêers daardie klas die maklikste kan beetkry nie. Dit help ook niks om met woorde te speel nie; dit maak vir die salaristrekker nie die minste verskil of hy met vyftig pond belas word, en dit word 'n belasting genoem, en of dieselfde vyftig pond op 'n ander manier van hom afgestroop word nie. Vir die res betaal hy dieselfde belastings, volgens dieselfde skaal, as elke ander burger van die staat.
Ons praat van uitsoek van 'n klas. Die Provinsiale Raad kom een van die dae bymekaar om te oorweeg of hy die onderwysers van die Kaapprovinsie teenoor die onderwysers van ander provinsies, wat reeds soveel hoër besoldig word, en teenoor alle ander staatsdienaars, sal uitsoek vir strafdiskriminasie. 'n Mens sou gedink het dat juis hulle, as daar dan moet uitgesoek word, die laaste moes gewees het en nie die eerste nie. Al wat hierbo van die staatsdienaar in die algemeen gesê is, geld vir die onderwyser met gelyke krag. Maar daar is iets besonders aan sy kant te sê wat nie op die ander van toepassing is nie, en dit is nie om sy belange ontwil maar om die volksbelang ontwil. Elke ouer staan onder die vreeslike verpligting om die kinders wat hy in die wêreld bring so op te voed dat hulle wanneer hulle aan hul eie sorg oorgelaat is, die grootste mate van geluk in hulle eie lewe sal kan vind en tot die hoogste diens vir hulle ewemens in die maatskappy bekwaam sal wees. Hierdie verpligting skuif hy op 'n substituut-voog af wanneer hy sy kinders na die skool stuur. Is dit onverskillig van hom as die plaasvervangende huurouers niks beters is as goedkoop opgetelde huurlinge nie? As hy sy eie kinders wat na 'n lewensbetrekking vorentoe kyk om te kies, bang maak vir die onderwysers-amp, aan wie se hande wil hy die geestelike toekoms van die volk toevertrou? Dit van die enkele ouer; maar die hele volk van vandag is maar gesamentlik die ouer van die volk van môre.
Maar ons het natuurlik met politiek te doen – nie die ding waar die onderwyser, soos die regter en die gewone staatsamptenaar en die predikant, te veel mee behoort te doen te hê nie, en dit sal bitter jammer wees as hulle nou tot selfverdediging in daardie stryd ingedryf word – maar politiek dan: ek praat hier met geen partygesag nie, maar persoonlik sprekende kan ek nie sien hoedat die Nasionale lede van die Provinsiale Raad altans, vir die vermindering van onderwysers-salarisse kan stem sonder om nog erger te doen as om die verklaarde beleid van die Nasionale Regering te repudiëer nie. Nog erger want hulle sou aan 'n seksie doen wat die Regering nie aan almal gelyk eens wou doen nie. Wat die ander lede betref, hulle Party het nie in die parlement die Regering se beleid op hierdie punt bestry nie. Nou mag dit nie altyd maklik wees om uit die SA Party se houding van gister op een plek af te lei wat hy vandag en môre op 'n ander plek sal doen nie. Maar as daardie kant se lede van die Provinsiale Raad vandag op die hoë punt staan dat party-oorwegings nie by hulle tel nie sodat hulle die betrokke vraag op sy meriete kan behandel, kan hulle miskien die verstandige gebruik van hulle vryheid maak om redelike oorwegings in ag te neem, soos dié wat hierbo aangestip is. Hulle optrede sal hulle dan nie die minderes van hulle Nasionaliste-kollegas maak nie. Hulle sal die onpolitieke koninkryk van die hemele gesoek het en die politieke party-voordeel sal hulle toegegooi word.