Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense is al te geneig om te hoor net wat hulle wil hoor. Niks is vir die saak van die Here so skadelik soos die flou stem van ʼn sieklike Christendom nie. Daarom moet ons versigtig wees wat ons hoor.
HANDHAAF AFRIKAANS
Johan Dorfling
Maklik gesê, maar hoe kan ons Afrikaans handhaaf as staatsdepartemente en ander staatsinstellings Engels as voertaal gebruik en ons in winkels in Engels bedien word? Kenmerkend van ons Afrikaners probeer ons beleefd dit vir ander maklik te maak. Die probleem is egter dat die wat Engels praat, misbruik daarvan maak. Daarby praat hulle so vinnig dat ons hulle manier van woorde uitspreek nie maklik volg nie.
Wat saam daarmee gebeur is dat ons na Engels oorslaan, 'n taal wat ons nie alledaags gebruik nie. Daarby laat ons toe dat Afrikaans geïgnoreer word, aldus verloën ons ons eie taal sodat dit nie meer in die openbaar gebruik word nie.
Die gevolg is vanselfsprekend dat Afrikaans as kommunikasietaal verdwyn, al word dit sogenaamd in die grondwet beskerm. As ons so voortgaan, sal ons nageslag oor 25 jaar Afrikaans as 'n derderangse taal van ons erf.
Gelukkig vind 'n herontwakening plaas. Meer en meer Afrikaanssprekendes maak van woordeboeke gebruik vir korrekte spelling en betekenis. By openbare plekke vermaan meer en meer ouers hulle kinders om nie Engelse woorde te gebruik wanneer hulle Afrikaans praat nie. Een ouer het vriendelik en hoorbaar uitdruklik aan haar kinders gesê dat hulle suiwer Afrikaans moet praat en suiwer Engels wanneer hulle Engels praat. Pragtig beleefd van ons mense. In die proses laat ons reg geskied aan beide tale, solank ons nie altyd net na Engels oorslaan as ons met andertaliges praat nie. Afrikaans moet ook sy reg kry. As Afrikaanse kinders soms Engels praat, is dit slegs goeie maniere van ander kinders om soms Afrikaans te praat.
Daar is Afrikaners wat beweer dat ons Engels moet praat wanneer ons by winkels en openbare plekke soos staatsinstellings sake wil doen omdat ons nie die betrokke persoon se taal (Zoeloe, Kȏsa, Tswana) ken nie. Dan is Engels die neutrale taal. Bog. Ons praat nie met die persoon by die winkel of ander plek nie, maar met die winkel self. As die winkel my geld wil hê, moet hy my taal erken en iemand aanstel wat beleefd teenoor my en my taal is. As hulle nie iemand in diens het wat Afrikaans ken nie, stap ek vriendelik weg en gaan klop by 'n Afrikaanse besigheid aan. Miskien is die pryse daar om goeie rede ietwat duurder, dog my taal is nie te koop nie.
Volgens wet is staatsamptenare verplig om mense in elf tale te kan help. Waarom nie Afrikaans nie, terwyl andertaliges wel in hulle taal gehelp word.
Ook wanneer ek aan organisasies skryf. Indien hulle in Engels antwoord en verdere korrespondensie is nodig, aanvaar ek hulle antwoord, maar hou ek steeds vol met Afrikaans. Indien hulle vra dat korrespondensie in Engels moet plaasvind, antwoord ek in Afrikaans dat ek Afrikaanssprekend is en dat ek hulle Engelse skrywes in Afrikaans vertaal. Aldus verwag ek dat hulle organisasie dieselfde sal doen, want dan is ons op 'n gelyke vlak met erkenning van bestaansreg. Alles vriendelik sonder om lelik te wees.
As ons te ordentlik wil wees en na Engels oorslaan, verloën ons Afrikaans en gee toe dat Afrikaans geïgnoreer word en later doodloop. Ons moet op ons beginsels staan en ons nageslag hulle erfreg laat toekom.
Ons moenie spoke sien wat nie bestaan nie. Met my optrede hierbo het ek ons taal help uitbou by sommige winkels en vulstasies en terselfdertyd ons eie mense se besighede ondersteun.
Ons het instellings wat Afrikaans probeer bevorder soos die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans, die ATKV, die Vereniging van Regslui vir Afrikaans, die Afrikaanse Taalvereniging, Afrikaans.com en ander wat nog bestaan. Hierdie verenigings stel hulle self bekend en beweer dat hulle veel bereik op die gebied van die Afrikaanse taal. Die vraag is egter, wat bereik hulle? Ek het sommige taalverenigings se vergaderings bygewoon en hulle praat graag oor hulle doen en late, maar waar hulle optree is waar min bereik word. Hulle leef op 'n eilandjie wat reeds in Afrikaans bestaan. Beskerming van Afrikaans vir die Afrikanervolk waar Afrikaans aan aanvalle onderwerp word, waar Afrikaans deel van die Afrikaner se wese en kultuur is, daar moet sterk opgetree word en nie die bymekaargooi van anderstaliges waar Engels die voertaal word nie.
Een organisasie wat Afrikaans voorstaan, maar waar lede van verskillende volke vermeng is en Afrikaans 'n oneer aandoen, is Afrikaans.com. Hulle besef nie dat die politiek (staatkunde) wat hulle bedryf, tot die verval van Afrikaans lei nie. Dit is vergelykbaar met Afrikaanse skole wat ander volke goedgunstelik uithelp en dit lei tot die Afrikaanse skole se einde, soos ons almal immers weet. Slegs 'n klein minderheid anderstaliges neem beheer oor die skole. Ander Afrikaanse taal-organisasies moet ook versigtig wees en die dwaalspoor raak te sien.
Op die gebied van sport het Afrikaans reeds 'n groot knou weg, want al hoe minder Afrikaans word gehoor. Dit is een van vele terreine waar die werklikheid van gemengde volke Afrikaans laat agteruitgaan, soos in die praktyk bewys. Wanneer Duitsland, Engeland, Argentinië, Frankryk, Rusland en waar ookal teen mekaar deelneem, word sportuitsendings aan hulle mense in hulle eie tale gedoen, maar geen internasionale deelname in die buiteland in Afrikaans na Suid-Afrika nie. Watter organisasie veg vir Afrikaans?
Miskien moet 'n Afrikaanse taalvereniging gestig word wat daadwerklik iets bereik.