Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ek gaan maar net een maal deur die lewe;
Enige goeie daad wat ek kan verrig of enige welwillendheid wat ek aan my naaste kan betoon, laat ek dit nou doen.
Laat ek dit nie uitstel nie want ek sal nie weer hierlangs verbygaan nie
BEWAAR AFRIKAANS?
Praktiese mens
Taal is onbelangrik. Waarom daar mense is wat hulle tot die behoud en uitbouing van Afrikaans verbind, is vir my onbegryplik, want in enige ander taal soos Engels, Duits, Frans en Sweeds, presteer studente, navorsers en ander tot op die hoogste vlak. Die gewone man op straat vind ook geen moeite om met mekaar te kommunikeer nie.
Ons voorouers, van Jan van Riebeeck se tyd af, het 'n eie taal ontwikkel en onnodige energie daarin gesit om 'n taalstryd aan te knoop. As hulle destyds Engels as taal aanvaar het sonder al die geveg en kostes, het ons vandag geen taalstryd gehad nie en kon ons almal maklik met mekaar in Engels kommunikeer. Dit was kortsigtig van ons voorouers om te reken dat hulle 'n taal-erfnis aan ons nagelaat het. Met al hulle onnodige moeite het hulle slegs veroorsaak dat hulle eie kinders met donkie-ore en swart kolle op die voorkop bespot was. Wie praat in elk geval deesdae Afrikaans?
Kyk na die volgende alledaagse voorbeelde:
Moenie worry nie, ons kan mȏre gaan shop.
Daardie performance was awsome.
Laat ek my tools uithaal, dan fix ek gou jou lawn-mower.
Dit is 'n oulike girl daai, net jammer sy het te veel make-up.
Ek sal jou SMS (Short Message Service). Hoe stuur jy 'n diens in Afrikaans? Jy stuur 'n teks of boodskap.
Ons blameer maklik kinders en jonger mense van taalverminking, maar dit is die ouers se skuld wat hulle die voorbeeld stel en nie reghelp nie. Mans praat van fire-lighters, charcoal, house-pipe, weed-eater en vrouens praat van flour, baked-beans, heater, lipstick en letterlik honderde ander Engels woorde. Daar is dus geen trots vir Afrikaans nie. Wat is nou weer die Engels vir tyre? Ek kan aan geen sogenaamde Afrikaanssprekende dink wat Afrikaans praat nie, wel 'n bastertaal. Baster-Afrikaans is vinnig besig om Afrikaans te verdring en oor te gaan na Engels. Taalverenigings speel saam, dit is vir seker, want hulle leef net op hulle eie eilandjies met toelating van vreemde woorde.
Selfs openlik erkende Engelse begrippe word oorgeneem soos lewendige ammunisie in plaas van skerp ammunisie, bal lewendig hou (in rugby) in plaas van in spel hou, motorvoertuig word gediens in plaas van versien, laaste uitgawe van 'n tydskrif of koerant in plaas van jongste uitgawe, angstig in plaas van gretig. Leerders gaan deesdae skool toe, in plaas van leerlinge.
Sogenaamde Afrikaanssprekendes besef nie eens dat uitdrukkings soos trek jou been en tong in die kies openlike erkende Anglisismes is nie.
So kan tot mȏre voortgegaan word. Ek vra weer, Wie praat nog Afrikaans? Afrikaans dien geen doel nie. As daar so iemand is, sal ek graag met daardie een of twee Afrikaanssprekendes in verbinding wil tree om te verneem wat hulle daarmee doen. In winkels en owerheidskantore praat almal Engels, en sogenaamde Afrikaanssprekendes ook. Hulle vriende moet die geradbraak maar tuis aanvaar, anders klim jy in hulle kele af.
Ja, ons voorouers het 'n onmiskenbare taal-erfnis aan ons nagelaat, dog ons befonkfaai daardie erfnis vir ons kinders. Ons ken nie eens meer pittige en spitsvondige Afrikaanse gesegdes en uitdrukkings nie, wat van gebruik. Sal ek 'n klomp opnoem? Daarom moet ons daardie taal-erfnis laat vaar en na Engels oorslaan. Baster-Afrikaans het geen wetenskaplike bestaansreg nie.
Kom ons gee bes en hou op om oor Afrikaans te fight en racist te wees. Daar is beter dinge om te doen. Dieselfde begrippe in moedertaal-Afrikaans en baster-Afrikaans verskil soveel van mekaar dat ons mekaar nie verstaan nie en dan klink dit asof ons nie kan saamwerk nie, terwyl ons bloot verskillende betekenisse aan dieselfde woorde toeken. Ons fight en rumble nie langer in skole en universiteite oor Afrikaans nie en gebruik die tyd om in vrede doeltreffend in Engels te studeer.
Die beginsel van standaard Afrikaans is vergete en laat ons wind sluk. Dink net hoeveel vrede en rustigheid sal heers. Geen damages aan geboue of insults teenoor ander studente nie. Die nuwe Bybelvertaling wat tans in sogenaamde Afrikaans opgestel word, is reeds vol vreemde nie-Afrikaanse woorde.
Kom ons stig ‘n vereniging SKAF-AFRIKAANS-AF-TER-WILLE-VAN-VREDE.