Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde word nie verbitterd nie...
TAAL AS WERKTUIG IN GOD SE HAND
Die vergrieksing van oud-Israel
Ds.A.E van den Berg
Inleiding
Hellenisme is die benaming wat die invloed van die Griekse kultuur op die mense van die Middellandse Seegebiede eeue gelede omskryf. Dis tot in die Ou Nabye Ooste gevoel en het by Alexander die Grote (356-323vC) begin toe hy mag oor Klein Asië, Egipte en etlike gebiede tot by die Indus verkry het.
Hellenisme het die sosiale lewe, politiek, kunste, wetenskap en godsdiens van destyds sterk beïnvloed. Sommige van die onderhorige lande het die Griekse juk met verloop van tyd afgeskud, maar nie Klein Asië, Sirië of Egipte nie. Hul Griekse juk is in die eerste eeu voor Christus met ʼn Romeinse een vervang.
Alhoewel vreemdelinge uit verskeie wêrelddele die Grieke beïnvloed het, het hulle ʼn eie kultuur gehandhaaf wat later sprekend van die Westerse beskawing geword het. Hellenisme is nie oral goed ontvang nie. Die teokratiese Jode het weens hul godsdiensverskille sterk van Hellenisme verskil. Nogtans het die Griekse gedagtegang Judaïsme wel beïnvloed. Dis duidelik aan die Apokriewe wat in Grieks geskryf is te sien.
1. Wêreldtaal
Alexander het één wêreldryk, één taal en één burgerskap nagestreef. Die algemene Griekse spreektaal wat ontwikkel het, is koinê genoem en toenemend in die buiteland gepraat. Met die vestiging en uitbreiding van die Romeinse ryk, het handelsverkeer skerp toegeneem en was koinê die handelstaal. Die NT is ook in koinê Grieks geskryf sodat almal dit kon lees en verstaan en tot bekering kom.
Gedurende die ballingskappe het baie van die Jode die vermoë om Hebreeus te lees en skryf verloor. Grieks wat oral gepraat is, was ʼn oplossing. Joodse geleerdes het selfs lank aan ʼn vertaling van die Bybelse Hebreeus en Aramees na koinê Grieks gewerk. Dis in 132vC voltooi en word die Septuagint genoem. Christus haal selfs uit die Septuagint aan. Talle vooraanstaande Joodse skrywers soos Philo het dan ook sy geskiedkundige werke in Grieks geskryf. Al die boeke van die NT is ook in Grieks geskryf
2. Verdeeldheid
Nadat die Jode uit die onderskei ballingskappe teruggekeer het, het hulle hul eiesoortigheid deur ʼn gehoorsaamheid aan die Wet van God probeer beskerm. Dit het tot die vorming van Fariseïsme en bywerk van onnodige godsdienswette gelei wat die volkslewe verdeel het.
Op kulturele gebied het Hellenisme die Jode se volkslewe ontwrig en op politieke gebied het die Romeine die septer geswaai. Op godsdienstige gebied het die verskillende vertolkings van die Wet en die uiteenlopende Messias-verwagtings verwarring veroorsaak en Fariseers en Sadduseërs gereeld koppe laat stamp.
Die Fariseërs wat vir die behoud van die Joodse godsdiens, taal en volkslewe teen die vloedgolf van Hellenisme wal gegooi het, het die invloed van Grieks verag. Die Sadduseërs was die oudste groep en ‘n priesterparty wat weer gemaklik met die vergrieksing van Israel was.
Die Sadduseërs het ‘n hoëpriester as hoof gehad en as ‘n party die meerderheid in die Joodse Raad gevorm. Talle van hulle was invloedryke aristokrate wat die heiden-owerheid ter wille was. Hulle het selfs daarin geslaag om die Joodse leierskap van ʼn God-verordende priesterskap na ʼn Sadduseër-beheerde Sanhedrin te verander. Daarna het die landswette meer na Griekse wette as na dié van Moses begin lyk!
Hellenisme het ʼn invloed op die vroeë Christendom gehad. Die Christen-Judese geloof in een God was vir die Helleniste vreemd. Hulle het egter daarmee vrede gemaak ten einde goeie menseverhoudinge te handhaaf en insluiting eerder as uitsluiting toegepas.
Die Jode sowel as die Christene se aandrang om hul godsdiens suiwer te hou, het by talle geleenthede opstandigheid teen die plaaslike Romeinse gesag veroorsaak. Die Makkabeër-opstand en verwoesting van Jerusalem in 70nC vertel die verhaal van martelare wat ʼn duur prys vir hul getrouheid betaal het.
Ná die dood van Alexander die Grote het Hellenisme die geskiedenis van Judaïsme steeds beïnvloed. Toe Antiochus IV in 175vC koning van Judea word, was Jerusalem reeds sterk vergrieks. Griekse opleidingsentra het in Antiochus IV se tyd die Joodse kultuur sterk teengestaan en selfs daarin geslaag om ʼn verbod op die besnydenis en onderhouding van die Sabbat te plaas.
Baie van die Jode het saam met nie-Jode selfs varkvleis geëet, iets wat vir die Jode taboe was. Mt.8 maak melding van ʼn varkboerdery en demone wat in ʼn trop varke ingevaar het. In die gelykenis van die Verlore seun (Luk.15) het die seun in sy ellende verval terwyl hy varke opgepas het.
3. Redevoering
Die Grieke was versot op redevoering. Om ʼn saak deur ʼn logiese toespraak of debattering te stel of te verdedig, was ʼn kulturele kenmerk. Paulus het dit selfs gebruik om die Evangelie te verdedig:
” ..... omdat hulle weet dat ek bestem is tot die verdediging van die evangelie” (Fil.1:16).
Petrus skryf in die selfde trant:
“Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is....” (1 Pet.3:15).
Alhoewel Paulus se sendingreise hom dikwels na sinagoges en ander plekke van Joodse samekomste in die buiteland geneem het, het hy ook van openbare plekke vir redevoering gebruik maak soos op die Areopagus(Hand.17).
Joh.1:1 is een van treffendste voorbeelde waar Bybelskrywers ʼn Griekse begrip gebruik het om ʼn Godswaarheid mee te verduidelik.
“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (Joh.1:1)
Woord dui hier op Jesus. Die Jode het hierdie woord vir ʼn mening, toespraak of redenasie gebruik. Die Grieke het dit vir ʼn geestelike skeppende mag in die heelal gebruik. En dis waarby Johannes reg aan die begin van sy Evangelie aansluit om Jesus se wonderwese sterk te beklemtoon.
4. Twee groepe
Die vroeë kerk het twee groepe gelowiges gehuisves. Die Hebreërs was Joodse Christene wat uitsluitlik Aramees gepraat het. Die Griekssprekende Jode het weer net Grieks gepraat en was Paulus nie goedgesind nie. Hulle het hom by geleentheid probeer vermoor:
“...en vrymoediglik gespreek in die Naam van die Here Jesus, en ook met die Griekssprekende Jode gepraat en geredetwis, maar hulle het probeer om hom dood te maak” (Hand 9:29).
Uit die openingsverse van Hand.6 is dit duidelik dat daar by geleentheid wrywing tussen die twee groepe in die kerk was:
“En in dié dae toe die dissipels vermeerder het, het daar 'n murmurering ontstaan van die Griekssprekende Jode teen die Hebreërs....” (Hand.6:1).
5. Onbesmet
Kritici beweer dat die vroeë Christendom met die Griekse filosofie besmet is waaruit die leer van Drie-eenheid bv. ontstaan het. Dis glo deur die sienings van Platobeïnvloed. Sulke bewerings is ongegrond.
Justinus die Martelaar het wel vergelykings tussen die Christendom en die Griekse filosofie getrek en sekere benamings en gedagtes daarvan geleen om die Evangelie te verduidelik. Dit het egter nooit die Evangelie geskaad of die ware betekenis daarvan weggeneem nie. God het Grieks gebruik om die Evangelie wêreldwyd te versprei sonder om die boodskap van verlossing in Christus Jesus te besmet.
6. Kulturele vernis
Die invloed van Hellenisme op die Jode was nie so sterk soos wat sommige geleerdes meen nie. Hellenisme is hoofsaaklik deur die heersersgroep en politieke eersoekers aangehang en derhalwe hoogstens ʼn kulturele vernislaag oor ʼn andersins gesonde volksbelewenis. Alhoewel dit Judaïsme en die Christendom geraak het, is dit deur die edelmoedigheid en diepe godsdienstige oortuiging van gelowiges teen heidense invloede beskerm.
Die Christendom is baie eerder deur Joodse invloede as deur Hellenisme beïnvloed. Die kern van Christendom is juis die vervulling van Ou Testamentiese verbondsbeloftes van die langverwagte Messias. Dit maak van die Christendom die hoogtepunt van die geskiedenis van God se handelinge met die Joodse volk; alles in die Nuwe Testament opgeteken. So gesien, was Grieks slegs ʼn werktuig in God se hand om die Evangelie aan alle mense te bring.