DIE INVLOED VAN ONS WOORDE

CJ LANGENHOVEN

Lees reeks by Honderd Prekies - Langenhoven

As jy nie goeie geselskap kan kry nie, probeer om dié wat jy kry goed te maak.

Elkeen van ons loop met 'n akker rond vir die ontvangs van saad, en elkeen van ons het op sy beurt 'n skoot vol saad om te saai op die akkers van ons bure. En geeneen van ons mors opsetlik sy saad nie.  Daar val wel 'n groot proporsie in die dorings en op die rotse en in die pad waar die voëls dit kom oppik, maar dit gebeur per ongeluk en nie na ons bedoeling nie. Of ons graan saai en of ons onkruid saai, ons bedoeling is nie om in die wind te saai nie. Ons hou nie aan met gesels met die man wat nie luister nie, ons vertel nie stuitige grappe aan die man wat nie daaroor lag nie, ons bespreek nie ernstige onderwepe met die ligsinnige dwaas wat daarmee spot nie. Ons soek die akkers waar ons ploeg 'n indruk maak en ons saad die kans staan om wortel te skiet. En om dié rede is dit dat soort soort soek,

en dat jy 'n man by gebreke aan beter toetse taamlik takseer na die geselskap en omgang wat hy maak. Want dáár pas die saaiers en die akkers naastenby bymekaar.

Maar gelykerwys die onkruid in die stoflike wêreld die oorhand het oor die graan, omdat dit vanself groei en die graan alleen met sorg en arbeid, so is die goeie saaiers in die verstandelike en sedelike wêreld skaars en die slegte saaiers en kwaaie saaiers volop. Hoe begérig ons dan ook is om ons akkertjie skoon te hou van onkruid en vol van vrugbare en nuttige groei, ons kan nie verwag om hier 'n wysgeer op te tel en daar teen 'n heilige te stamp om aan te sê: "Saai, my akker lê leeg" nie. Boeke kan ons kry waar eeue-dooie hande nog kostelike saad het: maar ons moet dit daar vat en self pit vir pit in die grond steek; weinige van ons het die moed daarvoor, en almal van ons verlang na die lewende bewerking deur ons lewende tydgenote rondom ons.

Maar nog hoef ons nie ydel te staan nie. Die bietjie saad wat reeds in ons akker wortel geskiet het, het sorgvuldige bewerking nodig;  en juis omdat so 'n groot vak nog leeg lê, moet ons te meer op ons hoede wees vir die indringende onkruid. En die vrugtetjies wat ons win – min en skraal kan dit wees want ons is nie almal met dryfgrond bevoorreg nie en ons is nie almal groot boere nie – maar tog, die geringe oes is weer saad waarmee ons kan saaiers word. En rondsiende op die akkers in ons buurte waarvan sommige nog armoediger van aard en swakker van bewerking is as die van ons, ontdek ons dat die slegte eienaars gewillig is dat ons die werk uit hulle hande neem, die onkruid vir hulle part uittrek en die grond vir hulle part bewerk en skoonmaak en die goeie saad van ons akker daar saai. En kyk, dan is ons besit vermeerder, want dan laat ons baie akkers oes oplewer in plaas van één.