DIE ONVEILIGHEID VAN ONS GEHEIME

CJ LANGENHOVEN

Lees reeks by Honderd Prekies - Langenhoven

Jy sou jou verwonder as jy wis hoeveel van jou geheime kwaad aan jou bure bekend is. Waarom sou hulle met jou daarvan praat? Hulle reken immers jy weet dit self!

Van die terughoudende invloede op die gedrag van 'n mens: jou godsdienstige geloof, jou vrees vir liggaamlike lyding, jou ontsag vir jou gewete , jou gevoeligheid vir die dwang van die wet en die respek vir die opinie van jou medemens – van dié invloede is sommige kragdadiger vir die een, sommige weer vir die ander, na die aard van hulle verskillende nature; maar daar is weinige van ons so goed dat hulle die publieke opinie versmaai as benede hulle, en weinige van ons so diep gesonke in onbeskaamde slegtigheid dat al hulle respek daarvoor uitgeblus is. En die publieke opinie, gelukkig vir die mensheid, hou koers na die goeie kant selfs in die laagste geskiedenistydperke van 'n vervalle volk. Deug en edelheid win altyd die respek ook van 'n menigte wat dit geenéén self navolg nie; die volksideaal is altyd hoër as die karakters van die individu's waaruit die volk saamgestel is.

 Dit is omdat geenéén van ons in alle opsigte sleg kan wees nie; die een hou hier 'n deug oor uit sy bedorwenheid en die ander daar; en elk, ter wille van sy kwaad in ander rigtings, troetel die één ooilammetjie van sy onskuld omdat dit so seldsaam is: en die opgehoopte oorskotte van deug vorm die gesamentlike deuggevoel van die volk.

En vir daardie oordeel van sy medemens het selfs die man ontsag wat om God of sy Gebod nie omgee nie, hom om sy gewete nie bekommer nie, en tot die soort kwaad geen aanleiding voel waar die landswet kan bykom om te straf nie. Hy vrees die veragting van sy medemens só dat hy meer moeite sal doen om sy sonde geheim te hou as wat dit hom sou gekos het om daarteen te stry.

Maar dis wonderlik hoedat die dinge darem uitkom. Daar word gefluister: "Daardie kêrel drink onder die kombers." Niemand was saam daaronder om hom te sien drink of te hoor sluk nie; sy gelaat dra nog nie die spore van sy onmatigheid nie: maar almal weet dit asof deur 'n geheimsinnige intuïsie. Of is dit dat mense so omvattend is in hulle ewigdurende kwaadpraat van mekaar dat hulle in sulke gevalle per ongeluk reg is?

Maar hoe dit sy: die arme drommel loop rond onder die aangename indruk dat sy naam nog skoon is, en hy knoop sy baadjie toe oor die wilde kat wat sy ingewande uitklou wanneer hy hom maar kon laat los het. Maar tog: dit hou hom bedags nugter. Die één anker waar sy arme deug nog aan kleef, sleep deur die losse sand; maar die ketting is nog nie af nie.