CJ LANGENHOVEN
Lees reeks by Honderd Prekies - Langenhoven
As jy jou vyand respekteer voordat julle twee aanmekaar spring, sal daar miskien rede wees om hom te minag as julle klaar het met mekaar.
Hierdie raad is nie oorbodig nie. Behalwe wanneer 'n man uit wanhoop of wraaksug of ook wel pligsbesef stry, het jy gewoonlik die vaste hoop dat jy sal wen. Jy sou nie 'n proses aan die gang sit of verdedig, of 'n verkiesing bestry, of aan 'n geveg deelneem, as jou vooruitsig was om te verloor nie. Dan sou jy skik of terugtrek of hardloop. En juis die vertroue op die oorwinning is al vanself 'n minagting van jou vyand, want dit beteken dat jy sy kant as die swakste beskou. Sorgvuldige voorbereiding kom alleen uit ervaring. Die ou prokureur sal hom vir die beste saak net so klaarmaak, net so sekuur ál sy getuies bymekaar maak, as vir die slegste. Die jonge reken op sy goeie saak (hy het altyd 'n goeie totdat die uitspraak gegee word). So ook met die ou generaal, die ou parlementslid en enige ou jakkals. Hulle het die wêreld deurgegaan en dra nog die merktekens van menige seer raps. Hulle weet die loop van sake is altyd so wisselvallig dat dit onmoontlik is om vooruit sekuur te bereken net hoeveel inspanning genoeg sal wees, en terwyl 'n man dan moet eenkanttoe of anderkanttoe skeel, is dit beter om die oorvloed van voorsorg te vermors as om die gebrek daarvan te betreur.
En selfs dan, met ál jou beste maatreëls, is dit 'n wisselvallige spekulasie. Want jou vyand kan net so verstandig gewees het as jy en hom net so oorvloediglik goed klaargemaak het. Jy kan jou kanse verbeter maar verseker ken jy hulle nie. Byna enige stryd is twyfelagtig, en enige twyfelagtige stryd is 'n dobbelspel. Dit het, vir sekere nature, ál die aantreklikheid, ál die sensasie van dobbel, maar 'n skone prys trek jy nooit uit die lotery van vyandskap as jy wen nie, en die pand wat jy insit is te kosbaar om te verloor. Daarom, tensy dit 'n beginsel is waar jy verplig is om by vas te trap, 'n reg wat jy verplig is om te handhaaf, 'n vaderland of godsdiens of taal of politiek wat jy verplig is om te verdedig: as dit moontlik is, oorwin jou vyand vóór die geveg – vernietig hom deur van hom 'n vriend te maak. Aan jou grootmoedigheid kan dan toegeskryf word wat anders op die rekening van jou swakheid kon gekom het. Dit is die beste manier om jou vyande te respekteer, om sy slae te vermy vóór dit val; en die beste manier om jouself te respekteer om nie te waag meer as jy kan behartig nie. En wil hy nie skik nie, sláán dan en slaan seer: hou goeie moed want hy is onvoorbereid; uit jou toenadering verwag hy swakheid. Nou is dit hý wat sy vyand minag.