BOERVIN
MEDIAVERKLARING 23 Maart 2019
Onregmatige aanhouding duur voort na 17 jaar
Suid-Afrika – 26 Maart 2019 gaan ’n waterskeidingsaak wees waarin vasgestel gaan word of daar nog enigsins plek vir die grondwet en internasionale verdrae in die Republiek van Suid-Afrika se howe bestaan. Dit gaan aandui of vergelding en onderdrukking van die Boerevolk so ’n prioriteit in Suid-Afrika geword het dat alle regspleging oorboord gegooi word.
Prof. Hercules Booysen, ’n internasionaal erkende akademikus en juris, beoog om op 26 Maart ’n aansoek namens mev. Riëtte Pretorius in Pretoria se Hooggeregshof te bring. Sy vra die hof om haar grondwetlike en internasionaal-erkende regte te beskerm, naamlik die reg op assosiasie en beskerming van haar familie en gesin. Haar versoek is dat haar familielede tydelik vrygelaat moet word. Dit sluit in haar man, dr. Wilhelm Pretorius, haar skoonpa, dr. Lets Pretorius en haar swaer, dr. Johan Pretorius.
Hulle reg op vryheid is reeds sedert 2002, die jaar van hulle gevangeneming in verband met die Boeremagsaak, geskend. Die tydelike vrylating word gevra, hangende die afhandeling van die klagte wat deur haar familielede by die Verenigde Nasies se Menseregte-komitee in 2018 ingedien is. Die klagte kan tot vier jaar duur voordat dit afgehandel word. Dit beteken dat haar familielede wat reeds nagenoeg 17 jaar onregmatig aangehou word, vir nog 4 jaar onregmatig aangehou moet word, voordat die VN se komitee beslis dat hulle vrygelaat moet word. Volgens Pretorius kan die VN se komitee, weens die feite en regsgesag, tot geen ander beslissing kom nie. In haar hofstukke voer sy drie punte aan om te wys dat hulle onregmatig aangehou word:
- Vyf jaar ná hulle vonnis in Oktober 2013, kon hulle steeds nie daarin slaag om te appelleer nie. Hulle reg op appèl is dus onherroeplik geskend. Volgens die grondwet en Internasionale Verdrag op Politieke en Siviele Regte, waarin Suid-Afrika ’n party is, skend dit die regmatigheid van die hele verhoor.
- Die staat weier om die volledige en amptelike rekord en dokumentasie van die strafverhoor aan hulle te verskaf. Daarom het hulle nie die nodige dokumentasie om te kan appelleer nie. Dit skend dus ook hulle grondwetlike- en internasionaal-erkende reg op appèl.
- Hulle reg op ’n wettig-saamgestelde hof is geskend. Wetgewing bepaal dat assessore slegs dien tot en met skuldigbevinding. In hulle strafsaak het die assessore gedien tot die einde van die vonnis en was die samestelling van die hof dus onwettig. Hulle is daarom gevonnis deur ’n onwettige hof.
Boervin vra vir elkeen se ondersteuning en gebede in hierdie verband. Dit kan die begin wees van die Boerevolk Politieke Gevangenes se vrylating asook ’n boodskap vir die staat dat daar gevolge is vir die onderdrukking van die Boerevolk. Elkeen wat die hofsaak wil bywoon is welkom, aangesien dit ’n openbare verhoor is.
Vir navrae kontak Riëtte Pretorius
E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. Webwerf: https://boervin.org/
Selfoon: +27 82 776 6597