HUISHOU- GOEDJIES

  ONS BOEREVOLK DESTYDS

In die ou dae was feitlik alles wat daar in ‘n huis was deur die mense self gemaak.  Hulle stoele, tafels,  katels en kaste was alles eie handewerk, maar ook die kleiner huishougoedjies soos emmers, karrings, sakkies, ens. is deur hulle self vervaardig.

Die balies

Om ‘n balie te maak het hulle goeie harde hout uitgesoek en hieruit duie gesaag, ongeveer 4 duim breed.  Die lengte van die duie het die diepte van die balie bepaal.  Elke dui is aan die binnekant effens hol geskaaf en aan die buitekant effens rond.  Twee van die duie was effens langer as die ander om reg oor mekaar as handvatsels te dien.  Die duie se kante is effens skuins gesaag om mooi teen mekaar te kan pas.  Hulle word styf teen mekaar in twee hoepels ingewig.  Van ‘n plank word ‘n boom ingesit en met ‘n derde hoepel in sy plek gehou.

In die huis was gewoonlik drie balies. Daar was een op die koffieskinktafeltjie vir die koffiekommetjies.  Hierdie balie was altyd vol skoon water.  ‘n Tweede balie het op ‘n ander tafel gestaan en is gebruik vir die skoonmaak van die borde en lepels, messe en vurke.  Hierin mag nie kommetjes gewas word nie.  Die derde balie is gebruik om in te was.  Hy moes elke keer na gebruik weer skoon uitgespoel word.

Die voetewas elke aand

Saans as die huisgesin bymekaar was, is die balie met lekker warm water deur een van die dogters of selfs die moeder van die huis ingebring en dié het dan die voete van elkeen wat teenwoordig was, gewas.  Teëstribbeling is nie geduld nie.

Die emmers en karring

Die eiegemaakte emmers het ongeveer dieselfde vorm gekry as ons sinkemmers.  Net soos die balies is dit met houtduie en hoepels gemaak.  Daar was groot maatemmers wat 25 pond graan gehou het  en  kleineres om water in aan te dra  en dopemmertjies vir die melkery.

In elke huis was daar ook ‘n karring, vervaardig uit houtduie en hoepels, wat amper soos ‘n omgekeerde emmer gelyk het.  In die deksel was ‘n gat vir die karringstaf wat hulle ook self gemaak het.  Die botter is gewas en geknie met ‘n tuisgemaakte botterspaan.

Die gereedskap van klip

Hulle het houtlepels vervaardig en houtborde gebruik en ook uit sagte leiklip borde uitgesny.  Mans wat gerook het, het hulle pype ook uit leiklip uitgesny en met houtstele voorsien.

Die koffiekan

Toe hulle nog nie koffiemeules gehad het nie, het hulle die gebrande koffie tussen twee klippe gemaal. Die koffiekan het hulle gekoop en hom baie goed opgepas. Douvoordag al is koffie gemaak en voor dit lig word is die eerste kan koffie al leeg gedrink.  Die huisvader hou dan die môregodsdiens  en daar word geëet voor die môreson sy kop uitsteek.

Die boeke vir die huisgodsdiens

Hulle het meesal uit Sluiters of uit die Lofsange Israels van Groenewegen gesing.  Saans was dit psalms en gesange, ná die lees van ‘n hoofstuk uit die swartdruk Statebybel.  Die meeste huisgesinne het ook nog die ou “outeurs” Brakel en Smytegeld gebruik.  Die boeke is elke keer na gebruik, gebêre in ‘n muurkassie of in ‘n wakis.  Soveel anders het hulle destyds geleef.