VELKLERE EN HOE DIT GEWAS IS

ONS BOEREVOLK DESTYDS

(Lees reeks by Ons Boerevolk destyds)

Velklere

Na die Groot Trek was die mense in Transvaal en die Vrystaat tevrede met hulle selfgemaakte velklere.  Elkeen het sy eie looihuis gemaak en die velle gelooi vir klere en skoene.  Vir klere het hulle die sagste skaap- of bokvelle geneem.  Die leer van ‘n gelooide skaapvel is baie sag, maar dit wil nie afnerf nie.  Die nerf is so dun en fyn dat dit amper onmoontlik is om dit af te kry en daarom moes die leer van skaapvel gebruik word met die nerf na binne en die vleiskant na buite.  So lank as wat die nerf nog op die vel sit, bars die nerf van die son as dit nat word en dan wil die vel sommer skeur.  Dit was dus ‘n reël dat met skaapvelklere die vleiskant aan die buitekant moes wees, maar dan is daardie kant met ‘n skuurklip so glad geskuur dat van vleis of vliese of drade niks meer te sien was nie.  As die seuntjie dan ‘n nuwe pakkie klere moes kry, het die ma dit uit een of meer velle gesny.  Die nate is gewoonlik met seninggaring gewerk.  Dit is die drade wat aan die garingbiltong langs die rug van beeste of bokke gekry word.  Die gewone linnegaring het nie vir velklere gedeug nie want die nate het gou oopgetorring.  Alle klere is met die hand gemaak, want hulle het nie masjiene gehad nie.  Daarom was dit ‘n tydsame proses.

 

Die velpak en reën

Die velklere was mooi sag en het ‘n mooi ligte kleur gehad.  Daarby het die seun net nog ‘n hempie gedra.  Oor sy arms, rug, skouers en bors was die leer te hard en styf en daarom moes hier ‘n hemp onder die velbaadjie kom.  Daar was egter probleme wanneer ‘n persoon natgereën het.  Die leer was nie waterdig nie en het nat geword soos ‘n vadoek en dan om die liggaam gehang soos nat vere om ‘n hoender.  As  hy dan in die nattigheid by ‘n vuurtjie gaan sit om te droog, het die leer hard en blikkerig geword en die vorm aangeneem waarin dit gedroog het.  Al genade was dan om die broek uit te trek en te was.  Om die ligbruin looikleur te behou, het hulle die klere na elke keer se uitwas met wilde suring ingevrywe.  Onderwyl die gewaste klere droog word, is dit elke keer ‘n  bietjie gebrei.

 

Die onderbaadjie

Die grootmense het graag onderbaadjies gedra om daarmee te kan spog.  Hulle het kalwervelle gelooi en saggebrei.  Hulle het ook mooi onderbaadjies van lammertjies se velle gemaak.

 

Die leerhoed

Behalwe die velklere, het hulle ook hoede van leer gemaak.  Gewoonlik is bokvelle gebruik, maar ook die velle van otters!  Hulle het selfs kepse gemaak van tiervelle of die velle van silwerjakkalse.

 

Meisiesklere en die kleure

Vir die meisies is sommer loshangrokkies van die sagste leer denkbaar gemaak.  Ook hulle klere kon nie reën verdra nie.  Vir die was van die klere vir die dogtertjies het hulle ‘n paar hande vol geelblommetjies in die water gegooi wat gemaak het dat die klere die goeie kleur behou het.

Op sommige plekke het hulle selfs strooihoede vir die meisies gevleg, maar die algemene hoofbedekking was ‘n velkappie, wat amper dag en nag op die kop van die dogters moes wees, só bang was die oumense vir sonbrand.

Die oumense se drag vir die mans het dus in die meeste gevalle bestaan uit eiegemaakte riempieskoene, ‘n velbroek, velbaadjie en onderbaadjie, die velhoed of keps. Net die hemp was van sagte goed.  By die vroumense was dit skoene, rokke en kappies.  Alles was van velle gemaak, want leer was volop deur die skiet van wild en die slag van skape.  Daarmee het hulle klaargekom.