VERHOUDING TUSSEN BOER EN WERKER

ONS BOEREVOLK DESTYDS

(Lees reeks by Ons Boerevolk destyds)

Ons herinner u net weer daaraan dat al die artikels oor bogenoemde onderwerp,  uit B Spoelstra se boek, Ons volkslewe van Toeka verkry word.  Die hoofstuk waaruit ons vandag ons gegewens put, het Spoelstra betitel: 'Die verhouding van K-----  en boer in die ou dae.'  Ek sal maar in hierdie artikel in plaas van die gewraakte woord wat ons glo nie mag plaas nie, afwisselend die benaminge Bantoes, inboorlinge en Swartes gebruik.

In ons warm en sonnige Suid-Afrika was die witman en veral die boer op die plaas met die swaar werk baie afhanklik van die hulp van die swart nasie.

Die nut vir die Bantoes om by die boer te kom

Hulle het uitstekend saamgewerk aan die ontwikkeling van die land.  Wat sou van die K geword het as die boer hom by die kraal laat bly het om daar te leef soos wat hy gewoond was?  Hy sou nog ‘n volslae of half-wilde wese gewees het, onwillig om te werk en sonder om iets van enige beskawing te weet.  Geklee in ‘n karos, het hy maar van wild geleef.   Die boer het hom geleer werk, soos ‘n vader sy kind leer.  Die K was in baie opsigte in ‘n kinderlike verhouding tot die boer geplaas, wat hy as sy baas geag het.  Schonken het dit as volg beskryf:  “Men kent de politiek der Boeren tegenover de inboorlingen aan ‘t streven naar ‘n vaderlike autokrasie, door welke dese volken als onmondige kinderen met vaste hand opgevoed en tot hogere ontwikkeling gebracht moeten worden.”

 

Vaderlike gesag

In Wes-Transvaal waar die verskillende stammetjies feitlik uitgeroei was deur Silkaats, was die boere vir hulle soos vaders wat hulle beskerm het teen gevare en het die boere teenoor hulle ‘n vaderlike outokrasie uitgeoefen.

 

Naamgewing en kleding

Hulle inboorlingname was te moeilik om te onthou of uit te spreek.  Hulle het name ontvang wat by hulle gepas het, soos  Swartbooi en Geelbooi en Bybelname soos Abraham en Jacobus, of name van die maande soos Jannewarie, April, ens.  Die boer het hom ook van klere voorsien, in plaas van sy primitiewe karos en stertriem.

 

Die lewe op die plaas

Die k-plaaswerkers het afhanklik geword van die baas, want hulle het lekker gelewe, met volop kos om te eet, al was die plaaswerk hard en dit moeilik om ‘n sekel te leer hanteer, skaapskêr te slyp of ‘n wa te smeer. Dit was vir hulle moeilik om te leer werk en baie van hulle het soms stokkies gedraai en van die werk af weggebly en moes dan gestraf word., wat hulle gereeld as regverdig aanvaar het. Maar tog was die toediening van lyfstraf teen die wet.  Die baas kon by die veldkornet kla as die bediende te lui is om te werk.  Die veldkornet kon dan lyfstraf toepas.

 

Die opvoeding van die swart plaaswerker

Een van die eerste dinge wat hy moes leer was beleefdheid.  Hy moes onthou om “baas” te sê as hy sy werkgewer aanspreek  As hy die hele huisgesin bymekaar groet, moet hy elkeen apart groet. As hy in die huis kom, moes hy sy hoed afhaal. Die hoed moes buite bly.  Om iets van sy baas te ontvang, soos ‘n stukkie tabak, moes hy altwee hande bakhou. By al hierdie dinge het hy sy baas gerespekteer en aan hom geheg geraak.

Vir uitlanders wou die K nie baas sê nie.  Ou Goeiman het by ‘n gebore Ier gewerk en hom altyd “seur” genoem in plaas van “baas”.  Hy het gesê: “Die mense van oor die see,  hulle is te sleg om baas te wees, hulle maak of die K hulle maat is, nou ons noem vir hulle seur.”

Die gewone betaling van die plaaswerker het bestaan uit sy kos, ou klere en ‘n vers in die jaar.  Sy beeste het op die plaas bly loop maar darem sy oormerke gekry.  Sodoende was daar van hulle wat dikwels jare en jare by dieselfde baas gebly het.  Dan het hy gepraat van  'ons' beeste, skape, perde en wa.

Die ouer swart werker en die boer

In baie gevalle was hy ook nie meer die gehuurde werker van die plaas nie, maar het as’t ware tot die plaas behoort en as die oubaas sterf, beskou outa die seun as sy meester en bly baie kere nog die storieverteller van die kleinkinders van die oubaas.

Die outa het op sy oudag ook nie meer swaar werk gedoen nie, maar is maar gebruik om die skape op te pas of om ‘n bietjie na die kalwers te kyk.  Dikwels kon mens hom naby die kombuis kry, want hy was altyd lief vir koffie.  Die nooi weet wanneer hy weer koffie kom vra.  Dis wanneer hy begin vertel van die oorlede ounooi se dae.  Hy vertel hoe fluks hy altyd was, om vir die ounooi vuur te maak en die ketel te kook as hulle op pad was na die kerk of na die ounooi se suster daar ver anderkant die Vaalrivier.  Of hy vertel hoe die tier hom eendag amper gevang het toe hy hout gesoek het om by die uitspanplek ketel te kook.  As hy so gelukkig is dat nonnie luister, dan gaan outa maar aan met vertel, want dan is hy seker van sy koffie.  Kom die koffie, dan is sy hoed  in ‘n kits af en onder die roep:  “Baie dankie nonnie!  Baie dankie nonnie!” neem hy dit met twee hande.

Die kleinbasie hoef jy nooit te soek as outa op die werf rond werk nie.  Hy is altyd by outa, wat graag vir hom ‘n swepie maak, ‘n klei-os aanmekaar druk of hom vertel van kalwers leer en reisiesja.

As die outa uiteindelik doodgaan, sorg die boer nog vir planke vir ‘n kis om die ou liggaam in te lê.  Outa rus op die plaas waar hy as jong klong gekom het en met die oubaas en die kleinbaas saamgewerk en gesukkel het en waar hy baie stories aan die kleinbasies vertel het.  Daar het hy miskien ook nog ‘n Christen geword, want hy het altyd saans op ‘n lae bankie gesit as oubaas uit die Boek gelees het, want hy is  altyd na binne geroep as daar boeke gevat is.

(Wie is verantwoordelik vir die versteuring en vernietiging van die goeie verhoudings wat geheers het tussen Afrikaners en die Swartes in Suid-Afrika? En waarom is daar met voorbedagte rade vyandskap tussen hulle gestook?  Vra maar vir hierdie spulletjie wat tans in ons land die septer swaai, as jy letterlik begrawe wil word onder ‘n wavrag leuens. Bid dat die Here ons van hulle sal verlos).