(Lees reeks by Ons Boerevolk destyds)
"Die landdros sê aan die bandiete wat laat buite gewerk het: 'Julle moet oppas. Ek sal dié keer nog vir julle die tronkdeur oopmaak, maar as julle weer so laat kom, sal ek julle buite uitsluit. ' ”
Die veldkornet
In die dae van die Groot Trek en die eerste tyd wat daarop gevolg het, moes wat regspleging betref, van gesonde verstand gebruik gemaak word. Gelukkig was daar nog nie groot kwaaddoeners nie. Maar die Trekkers het dag na dag met die groot naturellebevolking in aanraking gekom. Om hulle afkeurenswaardige dade in toom te hou, was straf die enigste middel om die reg te handhaaf.
Die gewone regter oor die swartes was die veldkornet. In die oorlog was hy die voorman om die burgers aan te voer. In vredestyd het hy as regter opgetree by alle klein misdade. Die boer het die swarte wat by hom in diens was en gesteel het, na die veldkonet gebring. Hy het hom gestraf met ‘n plak of platriem van kameel- of seekoeivel gemaak. Die aantal houe het afgehang van die misdaad. Die misdadiger is aan ‘n ingeplante paal vasgebind en het dan sy straf ontvang.
Die swartes het ‘n ongekende vrees gekoester vir die veldkornet in die wyk waar hulle was. Sake is vinnig afgehandel sonder ‘n gesloer, soms binne ‘n paar uur en dan was hy terug in sy werk by sy baas.
Oor witmense het die veldkornet in vredestyd maar min regspraak uitgeoefen, maar dikwels as arbiter opgetree in geskille tussen twee persone en die vrede weer tussen hulle herstel.
Die landdros
As die sake met die swartes te moeilik was vir die veldkornet is die landdros se hulp ingeroep. Elke distrik het ‘n landdros gehad. Mense met gesonde verstand is as landdroste aangestel, al het hulle min skoolopleiding gehad.. Die landdros het vir sake of misdrywe een of ander boete opgelê wat binne ‘n aantal dae betaal moes word. Die man wat die boete moes betaal, kom toe die dorp binne en hou met sy ossewa voor die landdros se huis stil en betaal sy boete in die vorm van koring, artappels, vleis en ander produkte. Die landdros het wat hy nodig gehad het vir homself gehou en die ander op die mark laat verkoop!
Die tronke
Dit was eers maar eenvoudige klein huisies met ‘n grasdak en ‘n deur wat maklik oopgebreek kon word. Soms was die dak maar ondig en het die gevangenes binne natgereën. ‘n Gevangene het laat die aand uit die tronk gestap en na die landdros se huis gegaan om te kla oor die lekkery. Hy sê toe:
“Landdros, as dit langer so aanhou dat ek in die tronk nie ‘n plekkie kan kry waar ek droog kan slaap nie, dan sê ek vir jou dat ek regtig nie langer gaan bly nie, maar sal huis toe stap.” Die landdros moes beloof dat hy die volgende dag die dak sou laat regmaak en toe stap die man tevrede terug! Van konstabels en bewaarders het ‘n mens nie geweet nie. Die landdros was vir alles verantwoordelik.
Op een van die dorpe was daar op ‘n keer ‘n klompie bandiete wat op die pad gewerk het en teen die aand teruggekom het tronk toe. Langs die pad begin dit toe reën. Hulle skuil langs die mure van die huise tot die bui oor was en stap toe weer aan, maar het na die sin van die landdros ‘n bietjie laat gekom. Hy vra toe waarom hulle die aand so laat kom en kry as antwoord: “Ons kon nie in die reën loop nie. Ons moes skuil, want ons het nie droë klere om aan te trek nie.” Die landdros sê aan die bandiete: “Julle moet oppas. Ek sal dié keer nog vir julle die tronkdeur oopmaak, maar as julle weer so laat kom, sal ek julle buite uitsluit.”
Die respek en ontsag vir die landdros en vir die veldkornet was só groot dat niemand dit sou waag om te ontvlug nie, al was die kanse goed dat die persoon sou wegkom.
Dat so min mense in die tronk gekom het is te danke aan die groot skande wat iemand oor homself en oor sy hele familie sou bring, as hy tot tronkstraf veroordeel sou word en daarom het elkeen gesorg om homself so te gedra dat hy nie daar sou beland nie. Persone wat miskien ‘n swaar misdaad gepleeg het, het soms oor die landsgrense gevlug, want daar was nog geen uitleweringstraktate met die aangrensende lande nie.
Landdros en heemrade
As ‘n man ‘n ernstige misdaad gepleeg het, het hy te staan gekom voor ‘n landdros en 12 heemrade. Hulle het tot moorde ondersoek. Die aangeklaagde persoon het die kans gekry om hom te laat bystaan deur manne wat as advokate opgetree het, al was hulle dit in werklikheid nie. As hulle ‘n man skuldig vind aan moord, word die saak na die Volksraad verwys wat die beslissing moes vel en die doodstraf moes toepas. Tussen die uitspraak van die vonnis en die volvoering daarvan kon die veroordeelde besoek ontvang van verskillende mense wat met hom kon praat, met en vir hom kon bid, en afskeid neem met die wens dat sy treurige einde nog salig mag wees.