PERD EN TOERUSTING

Die velsaal of die ou niertjie-saal

Die mooiste ryding is nog altyd ‘n mooi ryperd wat loop en kopspeel onder die saal, waarop ‘n flukse boerseun sit.  Op die plase was hulle baie keer in die pad te sien en as ‘n klompie jong perderuiters bymekaar was, was dit heerlike pret om na hulle te kyk.

Ongelukkig is die perd ‘n duur ding om aan te hou en is die modesug tot die soorte van saals wat ‘n mens moet gebruik so sterk, dat die uitgawe om as perderuiters volgens die nuutste mode voor die dag te kan kom, so hoog dat die fiets verkiesliker word as ‘’n flukse ryperd.  (In Spoelstra se tyd was dit so. Nou, in die 20e en 21e eeu is dit net motorfietse en vir die rykes resiesmotors).

 

By die ou mense

Ons ou mense het nie na die nuwe modes gekyk nie.  Die kanse om nuwe dinge te kry was maar skaars en die kontantgeld in baie gevalle nog skaarser.  Hulle het van alles volop gehad, behalwe harde geld.  Die besittings het bestaan uit vee, wat as ruilgoed gebruik is.

 

Die saal

Dit het gemaak dat hulle ook met die perdesaal hulle bes gedoen het om sonder die winkelartikel klaar te kom.  Hulle het vir hulleself saals gemaak wat hulle die velsaal of die niertjiesaal genoem het..  Om dit te maak, het hulle op die volgende manier te  werk gegaan:

Hulle het eers ‘n goed deurgelooide, goed gebreide en mooi gelykgeslane beesvel gevat, wat natuurlik deur hulle self gelooi en bewerk is.  Die vel lê hulle mooi plat op die grond en lê dan hierop ‘n patroon van die oorleer van die saal , min of meer van dieselfde vorm as die  gewone boersaal van teenswoordig.  (In Spoelstra se tyd).  Die patroon word mooi afgetrek op die leer en dan volgens die lyn afgesny.  Hulle het die saalklappe en die sit van die saal aaneen gesny. Onder aan die oordek, moes die kussings vas kom.  Die kussings is van dun, saggelooide skaapvelle gemaak.  Op die oordek het hulle mooi in die middel ‘n lyn getrek, wat op die rug van die perd moes kom en aan elke kant ‘n paar duim laer as die rugstreep, het die eerste kussing gekom.  Die eerste kussing was ‘n strook leer van ses duim breed, wat met riempies aan die oordek vasgewerk is.  Met die els en die riempies word so mooi gewerk en die els word so skeef deur die oordek gesteek dat ‘n mens op die oppervlakte amper niks van die riempies gesien het nie.  Die eerste naat is mooi ewewydig met die lyn van die rug gewerk en die ander, die onderste naat van die eerste kussing, vier duim laer.  Dan was die kussing wyd genoeg om die saal te kan lig.  Vlak onderkant die eerste strook moes ‘n tweede kom, maar die tweede strook is nie so ruim opgewerk as die eerste nie, want die kussing moes dunner kom..  Die derde strook moes amper styf opgewerk word, want die derde kussing moes maar baie dun kom.  So het hulle aan elke kant van die rug drie stroke opgewerk., wat weerskante presies eenders gewees het.

Met al ses stroke opgewerk, word die ses kussings opgestop met wol en nou moes veral die kussings, die naaste aan die rug, baie sorgvuldig orals ewe styf of ewe hard opgestop word.  Die tweede moes nie so hard as die eerste wees nie, en die derde moes maar effentjies styf wees.  Met die styfstop van die kussings afgehandel, het hulle die twee kante na mekaar toe gebuig om die vorm te kry van ‘n saal soos ons dit vandag ken.  Dan moes die saalbome aankom, om die saal in hierdie vorm te hou, maar die oumense het geen hout- of ystersaalbome geken nie.  Hulle het ook nie van saalbome gepraat nie.  Hulle het voor en agter ‘n “puis” gemaak en hiervoor leer en wol gebruik.  Van sagte gelooide beesvel het hulle ‘n stuk gesny in die vorm wat die maan aanneem met  “eerste of laaste kwartier”.  Vir agterpuis het hulle twee sulke stukke op mekaar gewerk en dan in die middel agter oor die rug van die saal vasgewerk.  Die punte van die puis het eers los gebly om hier met wol te vul.  Die voorpuis was amper orals ewe dik soos ‘n geboë arm en het net aan albei onderste kante ‘n bietjie dunner gewees.  As albei puiste op die oordek van die saal vasgewerk was, moes hulle vol wol kom wat met ‘n houtjie só styf vasgestamp word dat ‘n mens ‘n spyker op die puiste sou kan reguit slaan.  Hoe stywer hulle was, hoe beter sou die saal sy vorm hou.  Nadat dit goed volgestop is, is die laaste endjies naat toegewerk.  Dan was die saal klaar.  Waar die buikgord se bostukke aan die saal kom, is dit ‘n paar duim in twee gesny, om dan met riempies aan die saalklappe vasgewerk te word.  Die vasgewerkte twee stukke het hulle die stoters genoem.  Die buikgord, wat sowat vier vingers  breed was, het met gespes aan die bostukke aan albei kante vasgekom.

Om die stiegrieme aan die saal te kry, het hulle soms kamme aan die saal gewerk, maar in die meeste gevalle het die boer maar net ogies van sterk soolleer aan die saalklappe vlak onder die voorpuis gewerk en hier die stiegriem deurgesteek.  Die stiegriem het dan nie so maklik uitgegly soos ons nuwe saals s’n nie, maar dit het nie gehinder nie.  Die stiegriem is deur die boer self gesny van eiegelooide leer, sodat daar aan die hele saal niks gebruik is wat gekoop is nie, behalwe ‘n paar gespes en die stiebeuls, wat van ‘n gedane ou saal afgehaal en weer gebruik is.

Die saal het natuurlik nie maklik gesit nie, maar na ‘n paar dae in gebruik, het dit lekkerder gery as ‘n “heel of half-militêre saal” wat deur die troepe gebruik word.  Vir die perd was dit ook gemakliker, want die boonste kussings was só styf gestop dat die saal net op die garingvliese van die perd en nooit op die rug self gedruk het nie.  Tussen die perd se rug en die saal was dit altyd oop.  Hier het altyd lug deurgetrek, sodat die mense nooit geweet het van  ‘n perd met ‘n seer rug nie.

Aan die hoë puiste voor en agter aan die saal het ‘n mens vashouplek gehad en ‘n jong seun moes ‘n baie slegte perderuiter wees as ‘n perd hom sou afgooi. Dit moes ‘n uithalerspringer wees of die ruiter moes baie sleg sit, as dit die perd sou geluk om die ruiter te “steel” en voor hom op die grond te gooi.  Tussen die puiste kon jy stewig sit.

As ‘n mens met die geweer in die veld was en afgeklim het om ‘n springbok of ‘n blesbok te skiet, was die ou niertjiesaal ook baie gerieflik om die stuk wild hierop vas te maak.  Die wild kon ne voor en ook nie agter afgly nie en dit was maklik om dit so vas te maak dat dit ook nie na die kante sou afval nie. Die naam niertjiesaal is te danke aan die vorm van die puiste, wat ‘n mens soms herinner het aan die niertjies van ‘n bees of ‘n bok.

 

Die gekoopte saal

Toe die gekoopte saal later in die mode gekom het, het die mense soms met minagting van die eiegemaakte saal begin praat en dit bespot as die  “niertjiesknyper”.   Dit het gemaak dat baie jongmense nie meer op die eiegemaakte, deeglike, goedkoop en gemaklike niertjiesaal wou ry nie en liewer ‘n hoop geld uitgegee het vir ‘n ingevoerde, duur, harde en ongemaklike saal.