HUISGODSDIENS SAANS

Só het ons jare gelede huisgodsdiens of boekevat gehou:

Op 'n Sondagmôre in Desember 1930 heers daar 'n gewyde stilte op die plaas.  In die huis het tant Sannie die kinders reeds al na die groot ou voorhuis geroep, want oom Jan wil boekevat.  Oom Jan het 'n baadjie aangetrek en gaan sit by die groot ou tafel en slaan die lywige Statebybel oop.

Dan vra hy dat tant Sannie 'n lied moet opgee wat hulle moet sing om die verrigtinge mee te begin.  Tant Sannie noem die gesang en die versie,  "Laat Heer uw zegen op ons daal."   Dan staan oom Jan op en gaan neem plaas voor die ou huisorreltjie (harmonium) en na 'n paar inleidende note, sing die gesin die lied op gewyde toon tot die end.  Nadat oom Jan weer sy plek by die tafel ingeneem het, kondig hy aan dat hy die hele hoofstuk 2 van die Evangelie van Matthéüs gaan lees, want dit is een van die dae weer Kersfees en hulle wil graag die geboorte van die Here Jesus herdenk.  Oon Jan lees maar stadig, want die Nederlandse woorde flikker maar kwaai voor sy oë.  Die Afrikaanse Bybel het eers 3 jaar later verskyn.

Uiteindelik het hy klaar gelees en slaan die Bybel toe.  Daarna staan oom Jan op om te bid.  Sy seun Pietie staan ook op, maar Hestertjie kan maar net soos haar ma, bly sit onderwyl haar pa bid.  Gewoonlik het oom Jan lank gebid.  Daar was so baie dinge op die plaas en in hul lewens aan die gang wat eerbiediglik onder die sorg van hul hemelse Vader gestel moes word en soveel seëninge uit sy hand ontvang waarvoor hulle Hom moes bedank.

Gewoonlik het oom Jan se gebed die verrigtinge afgesluit, maar dikwels het oom Jan die gesin nog 'n lied laat sing wat hy weer plegtig op die orreltjie begelei het.  Daarna was die boekevat afgehandel, maar nie vir die twee kinders nie.  Pietie en Hestertjie moes nou voor oom Jan kom staan en om die beurt vir hom vertel wat hulle onthou wat hy uit die Bybel gelees het.  Dit het dikwels met goedkeuring en aanprysings van oom Jan gepaard gegaan, maar soms ook met skrobberings, want die Nederlands was maar vir 'n Afrikaanse kind 'n probleem.

So het ons voorouers en ons ook in daardie vroeë jare huisgodsdiens gehou.  Ons het dit Boekevat genoem.  Dit het nie net op Sondagmôres plaasgevind nie, maar ook elke aand wanneer die gesin voltallig tuis was.

Hou ons Afrikaanse Christenhuisgesinne nog elke aand huisgodsdiens of boekevat?