1942: AHI GESTIG

KULTUURDAGBOEK 24 AUGUSTUS

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die gedagte  vir die stigting van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) het gekom van dr JG (Kaalkop) van der Merwe, wat reeds op die Ekonomiese Volkskongres van 1939 gepleit het vir 'n Afrikaanse handelsblad, Volkshandel, as voorloper. Met die ondersteuning van dr MS Louw, hoofbestuurder en uitbouer van Sanlam, is die FAK genader, wat 'n ondersoek uitgevoer en daarna 'n gidskomitee benoem het.

Die besluit tot stigting is op 10 Februarie 1942 in Bloemfontein belê. Dr JG van der Merwe is verkies tot die eerste voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstituut.

Die doel van die AHI was om die jong ongeorganiseerde Afrikaanse sake, merendeels op die platteland, te verenig in een groot organisasie wat as spreekbuis vir hulle kon dien, om hulle belange te bevorder en om voorligting te gee.

Die AHI het op die basis van landsbelang die verskeidenheid van sake-ondernemings en –groepe met die leuse Eenheid uit Verskeidenheid, saamgesnoer. Die slagspreuk was Ewewigtige Ekonomiese Ontwikkeling van ons Land, om deur een front 'n regmatige deel by te dra tot landsontwikkeling en die skepping van welvaart.

Daar is in geslaag om goeie samewerking tussen die koöperatiewe en nie-koöperatiewe sake te verky. Die anti-Engelse etiket wat die Engelse pers aan hierdie organisasie wou hang is eenvoudig geïgnoreer, en daar is positief voortgegaan om diens te lewer met die pro-Afrikaanse ideaal om 'n wesenlike bydrae te lewer tot ontwikkeling en vooruitgang.

Die klein aantal sake-ondernemings was blootgestel aan diskriminasie en pogings om hulle uit te hou en te verhinder dat hulle vastrapplek kry. Die oorlogsbewind het op die sakeleiers gespioeneer. Ten einde wetlike erkenning van die regering te kry, het die AHI 'n ooreenkoms met die Kamers van Koophandel aangegaan dat hy nie ander taalgroepe as lede sal aanvaar nie, maar hom sal toespits om die ongeorganiseerde Afrikaanssprekende sakemanne te organiseer en dat daar 'n skakelkomitee tussen die twee organisasies in die lewe geroep word, om gesamentlike optrede in sake van gemeenskaplike belang te verseker.

Die AHI was 'n vereniging sonder winsbejag en is in 1943 finaal geregistreer. Dr MS Louw is gekies tot eerste president. In 1974 was Andries Stöckenstroom die president.