KULTUURDAGBOEK 28 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Maria Elisabeth Rothman is op Swellendam gebore. As M.E.R. het sy een van die mees geliefde en gewaardeerde skryfsters van die Afrikaanse letterkunde geword.
M.E.R. was een van die eerste vroue wat in Suid-Afrika 'n BA-graad verwerf het. In 1922 word sy aangestel as die eerste vroueredaktrise van Die Burger. Weens haar daadwerklike belangstelling in maatskaplike werk is sy in 1928 benoem tot die organiserende sekretaresse van die ACVV.
In 1938 word 'n Carnegiebeurs aan haar toegeken en het sy 'n studiereis onderneem na die VSA. Ook verskeie Europese lande het sy besoek.
In 1950 ontvang sy twee ere-doktorsgrade: een van die Universiteit van Kaapstad vir haar letterkundige werke. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 1953 die Hertzogprys vir prosa aan haar toegeken, en in 1961 die Scheepersprys vir jeuglektuur.
In 1965 het die FAK sy eksklusiewe Erepenning vir Volksdiens aan haar toegeken. Sedert 1929 het M.E.R. in haar geboortedorp, Swellendam, gewoon, waar sy op 7 September 1975 oorlede is, kort nadat die eerbewyse ingestroom het ter geleentheid van haar honderdste verjaardag.
Sy het haar eers op 'n betreklik laat ouderdom op letterkundige werk begin toelê. Sy word bekend in 1920 met 'n jeugboek 'Kinders van die Voortrek', wat in 1960 opnuut uitgegee is as 'Die Tweeling trek saam'. Daarna het sy nog 'n hele aantal jeugboeke gepubliseer, twee romans, drie bundels, vertellings en verskeie versamelings van joernalistieke sketse. Haar literêre roem danksy veral aan haar kortverhale, versamel in 'Onweershoogte en ander verhale' (1927), 'Drie vertellings' (1944) en 'Die Gewers' (1950).
M.E.R. se literêre werk word gekenmerk deur 'n eenvoudige en natuurlike taalgebruik, dikwels verrassende beeldspraak, 'n tere en tog beginselvaste lewenswysheid en 'n intense belangstelling vir die mens en vir menslike verhoudings. Uit haar werk blyk 'n diepgaande kennis van en liefde vir haar land se verlede, mense, tradisies en natuur. Haar laaste publikasie het in 1972 verskyn onder die titel 'My beskeie deel – 'n Outobiografiese vertelling'.
Na haar dood het Alba Bouwer, en Anna Rothman, (M.E.R se dogter), asook Rykie van Reenen 'n interessante versameling van haar briewe uitgegee met die passende titel 'M.E.R., 'n kosbare erfenis' – 1977.