1939: GENL HERTZOG BEDANK AS PREMIER

KULTUURDAGBOEK 6 SEPTEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Sondag, 3 September, kondig Chamberlain, die Britse premier, in die laerhuis aan dat die Britse regering oorlog teen Duitsland verklaar het. Dieselfde Sondag het genl JBM Hertzog, Premier van die Unie van Suid-Afrika, sy kabinet na Groote Schuur ontbied. Hy het die Kabinet reeds die vorige dag uitvoerig ingelig oor sy reeds bekende standpunt dat hy in die Parlement gaan voorstel dat die Unie neutraal bly in geval van 'n oorlog tussen Brittanje en Duitsland.

Op die Sondagvergadering het dit duidelik geblyk dat genl Smuts en ander van sy kabinetslede hierdie standpunt nie onderskryf nie.

Die volgende dag, Maandag 4 September, dien genl Hertzog by die Volksraad sy neturaliteitsmosie vir bekragtigting in. Dit word die aand na 'n lang debat met 'n meerderheid van dertien stemme, onder wie vier oud-Nasionaliste, verwerp. In plaas van 'n verkiesing uit te skryf soos baie gehoop het, het goew-genl sir Patrick Duncan genl Smuts gevra om 'n nuwe regering saam te stel.

Genl Hertzog het sy amp op die 5e neergelê, en op 6 September het 'n erg verdeelde Suid-Afrikaanse volk tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree, een van die mees ingrypendste verdelingsfaktore in ons geskiedenis.

Nou het vir die Nasionale Afrikanerdom net een pad oopgelê, 'n lang, moeisame en moelike pad. Slegs 'n onafhanklike republiek, wat met verenigde kragte tot stand gebring is, sou in die toekoms 'n blywende einde maak aan 'n vernederende harhaling van 5 September.