1937: 'DIE TRANSVALER' VERSKYN

KULTUURDAGBOEK 1 OKTOBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Op hierdie dag het die eerste uitgawe van Die Transvaler in sy eie gebou in Hoekstraat 18, Johannesburg, verskyn.

Die stigting van die maatskappy Voortrekkerpers op 23 April 1936 en die koerant was 'n nuwe onderneming met die doel om 'n spreekbuis vir die Nasionale Afrikaners en meer bepaald vir die Nasionale Party van Transvaal te verskaf. Die politieke samesmelting van 1934 het die voortgesette Nasionale Party van Transvaal baie verswak, en dit moes feitlik van nuuts af herbou word. Daarvoor was 'n dagblad nodig.

'n Stigtingsvergadering is op 30 September 1935 onder voorsitterskap van sen WA Hofmeyr op Stellenbosch gehou. 'n Afvaardiging het mnr Pieter Neethling van Stellenbosch genader, en hy het die eerste R10 000 gegee om in aandele belê te word.

Openbare oproepe om bydraes is gedoen deur dr DF Malan en adv JG Strijdom, wat landwyd deur Nasionaliste ondersteun is maar nie baie geld ingebring het nie omdat getalle en vermoëns beperk was. Die koerant is met 'n skuldlas maar in die geloof begin en het deur die jare 'n groot bydrae tot die politieke en kulturele vordering van die Afrikaner gelewer.