Lees volledig by Kultuurdagboek
KULTUURDAGBOEK 4 OKTOBER
Gustav Schoeman Preller kan met reg die nasionale geskiedskrywer van die Afrikaner genoem word alhoewel hy geen wetenskaplike geskiedskrywer was nie maar hom as uitmuntende taalgebruiker en stilis in sy historiese werke openbaar het. Hy het op patriotiese wyse sy volk bewus gemaak van hulle geskiedenis.
Hy is op hierdie dag in Pretoria gebore en was van moederskant 'n agterkleinkind van die Voortrekker, kmdt-genl Stephanus Schoeman. Hy was getroud met Johanna Christina Pretorius, agterkleindogter van Piet Retief.
Met nie veel skoolonderrig nie was hy agtereenvolgend winkelbediende, prokureursklerk, en ook hoofklerk in die Departement van Mynwese toe die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 uitbreek.
Terwyl hy as lid van die Staatsartillerie aan die oorlog deelneem, werk hy ook as oorlogskorrespondent veral vir De Volkstem en vier maande voor die einde van oorlog word hy as krygsgevangene na Indië gestuur.
Terug in Suid-Afrika neem hy in Augustus 1902 die redakteurskap van Land en Volk van sy vriend Eugène Marais oor en begin sy joernalistieke loopbaan, waarin hy hom in besondere mate onderskei as veelsydige joernalis, maar ook, eers as assistentredakteur en redakteur van De Volkstem in 1903 tot 1925, en redakteur van Ons Vaderland, later Die Vaderland in 1925 tot 1936.
Preller het hom in die jare onmiddellik na die Tweede Vryheidsoorlog openbaar as vurige pleitbesorger en stryder vir die gebruik en erkenning van sy moedertaal, Afrikaans, en sy reeks koerantartikels onder die titel Laat't ons toch ernst wezen! en Een voorstel ter handhaving en veredeling van het Afrikaans als schrijftaal (in 1905 in brosjurevorm uitgegee) word tereg die manifes van die Taalbeweging genoem.
Preller wend hom veral tot die geskiedskrywing en produseer 'n hele aantal werke wat veral betrekking het op die twee groot momente in die geskiedenis van die Afrikanervolk: Die groot Trek en die Tweede Vryheidsoorlog.
Preller was ook deur en deur kultuurman, en het sy veelsydige begaafdheid gebruik om die Afirkaanse gedagte te bevorder. Sy werksaamhede is in 1931 bekroon met die toekenning van 'n eredoktorsgraad deur die Universiteit van Stellenbosch.
Hy is op sy plaas Pelindaba naby die Hartbeespoortdam op 6 Oktober 1943 oorlede en in die familiekerkhof op die plaas begrawe waar in 1947 'n gedenkplaat op sy graf onthul is.