Lees volledig by Kultuurdagboek
KULTUURDAGBOEK 15 OKTOBER
Suid-Afrika het op 5 Oktober 1960 met 'n meerderheid van 74 580 stemme ten gunste van 'n republiek gestem, en twee dae later is die FAK gevra om 'n Republikeinse dankfees te reël. Die FAK het ingestem en binne 'n week 'n dankbare skare van 70 000 in die Amfiteater van die Voortrekkermonument byeengebring.
Die fees het uit twee dele bestaan. Presies om drie-uur die middag het die Eerste Minister, dr HF Verwoerd, lede van sy kabinet, die vier administrateurs en die Uitvoerende Komitee van die FAK in die Sarkofaagsaal van die monument hulde gebring aan die leiers van die Afrikanervolk op die pad na Republiekwording. Van daar af het hulle na die Amfiteater gegaan vir die tweede deel van die feesprogram.
Skriflesing deur sen GR Wessels was uit Romeine 8 – 'n Oorwinningslied – waarna ds GJJ Boshoff 'n treffende dankrede gevoer het na aanleiding van Ps 127, vers 7: "Ons siel het vrygeraak soos 'n voël uit die vangnet van die voëlvangers. Die vangnet is gebreek en ons, ons het vygeraak." Prof HB Thom het daarna die verwelkoming gedoen en die dag "'n lentedag in ons geskiedenis genoem" genoem.
Dawerende applous het losgebars toe dr Verwoerd aan die woord kom en die volk vra om hom "toe te wy aan Suid-Afrika in geloofsvertroue waaruit alleen die allerdiepste krag kan spruit". In 'n indrukwekkende optog onder aankondiging van mnr Douglas Fuchs, en met koorsang en spreekkore, musiek en voordragte, het Boerekrygers, die jeug en vroue, voor die jubelende skare verbybeweeg. Met trompetgeskal en reusebaniere is hulde gebring aan genl JBM Hertzog, dr DF Malan en adv JG Strijdom, die Nasionale leiers wat dr Verwoerd voorafgegaan het.
By die afsluiting het dr S du Toit, seun van die Bybelvertaler, Totius, 'n spesiaal-gebinde Bybel as simbool van die volk se geloof aan dr Verwoerd oorhandig.
Nadat die skare reeds weg was, het lede van die FAK se Uitvoerende Komitee en personeel van die magdom blommeruikers wat die vroue gebring het, by die grafte van pres SJP Kruger en adv JG Stijdom gaan lê.