Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In Februarie het spanning tussen Israel en Iran vergerger toe Israelse leiers Iran blameer het vir nog twee aanvalle. Op 13 Februarie is die Israeliese Ambassade gebombardeer in verskeie state. Die ontploffings was soortgelyk aan aanvalle op Iran se kernwetenskaplikes 'n paar jaar gelede waarvoor Iran vir Israel blameer het. Kortom, Israel waarvan Jerusalem die hoofstad is, is voortdurend in oorlog. Waarom? Glog tog maar vir Jesus wanneer Hy huilend die stad op 'n donkie inry en sê: "As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande 'n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie." - Luk 19.
Het Suid-Afrika dalk ook die gunstige besoek van God nie opgemerk?...
1840: POTCH, WINBURG EN NATALSE REPUBLIEK VERENIG
Lees volledig by Kultuurdagboek
KULTUURDAGBOEK 16 OKTOBER
Die staatkundige oogmerk van die Groot Trek was om iewers buite die toenmalige Kaapkolonie 'n verenigde Voortrekkerstaat in die lewe te roep. Deurgaans is aan 'n enkele staat gedink, en daarom is ooreengekom dat Trekkergroepe ten noorde van die Oranjerivier bymekaar sou kom waar dan oor die toekoms besluit sou word.
Toe Potgieter en Maritz kort na mekaar in 1836 in die omgewing van Winburg aankom, is die eerste Voortrekkerbestuur op 2 Desember 1836 ingestel – op 'n tydstip toe oor die eindbestemming van die Trek nog geen duidelikheid bestaan het nie. Toe Retief hom in April 1837, en kort daarna ook Uys en sy mense, hulle by die Trekkers aangesluit het, het die kwessie van 'n eindbestemming belangrik geword, en daaroor was daar geen eenstemmigheid nie.
Potgieter wat 'n afspraak met Tregardt gehad het, wou Transvaal toe omdat hy afkering was van Natal wat na sy oordeel te vatbaar was vir beïnvloeding deur die Engelse. Retief, ondersteun deur Maritz en Uys, wou na Natal om by 'n hawe te wees, veral ook omdat die Engelse na hulle oordeel nie 'n bedreiging ingehou het nie. Daarnaas het 'n derde groep Trekkers in Winburg agtergebly. Van die eenheidstrewe het dus nie veel tereg gekom nie en elke groep het sy eie bestuursreëlings getref.
In Natal aangekom het die Trekkers op die voetspoor van die Winburgse Burgerraad en die Vetrivierse grondwet, hulle bestuur gereorganiseer in 'n "Raad van Representanten" of gewoon 'n Volksraad bestaande uit 24 lede en daarbenewens "Regulatien en Instructien" opgestel, wat as 'n eerste soort grondwet in Natal beskou kon word en derhalwe tweede in die Voortrekkergeskiedenis.
In die Oor-Vaalse het Potgieter enigsins patriargaal te werk gegaan, sy krygsraad uitgebou tot wat bekend geword het as die "Raad van Hendrik Potgieter", maar wat dan tog op die lees van die Burgerraad van 2 Desember 1836 geskoei was. Ten spyte van die afstand wat die Trekkergroepe van mekaar geskei het, het daar tog 'n drang tot groter eenheid bestaan. Hieraan het die Natalse Volksraad aan die einde van 1839 uitdrukking gegee toe Potgieter uitgenooi is om hom aan te sluit by die Natalse "Maatschappy".
In September 1840 het Potgieter hierop gereageer toe hy laat blyk het dat hy nie ongeneë is om met Natal te verenig nie. Hierop is kmdt-genl Andries Pretorius na Transvaal gestuur om verder oor die saak met Potgieter te onderhandel, wat daartoe gelei het dat 'n eenwording van die hele Trekkergemeenskap op 16 Oktober 1840 aan die Mooirivier in beginsel bewerkstellig is. Die verenigde Voortrekkerstaat sou deur 'n Volksraad met setel te Pietermaritzburg geregeer word.
Die Transvaalse Trekkers kon twaalf lede vir die Volksraad kies, van wie telkens minstens drie die Raadsvergaderings in Pietermaritzburg moes bywoon. Die reëling van 1840, waarin die eenheidsdrang van die Voortrekkers uitdrukking gevind het was van korte duur. Die lang afstand, swak verkeersweë en langsame vervoermiddele sowel as die Transvalers se vrees dat Natal vroeër of later deur die Engelse ingepalm kan word, was daarvoor verantwoordelik dat die eenheid nooit 'n werklike konkrete gestalte aangeneem het nie.