Lees volledig by Kultuurdagboek
KULTUURDAGBOEK 19 OKTOBER
Die oorlogsjare het Transvaal en die Vrystaat verander in 'n woesteny. Die stoflike bestaansmiddele was grotendeels vernietig en die deel van die Boerevolk wat nie op die slagvelde en in die Konsentrasiekamp-kerkhowe begrawe is nie, was vasgesak in armoede en maatskaplike ellende. Onder hierdie omstandighede word daar onder aansporing van Georgina Solonom, eggenote van 'n Britse pro-Boere parlementariƫr, en onder leiding van die vrou van genl Louis Botha, uiteindelik in Pretoria gestig: die SA Vrouefederasie, op 19 Oktober 1904, deur 43 vooraanstaande vroue, en wel met die volgende oogmerke:
"Ons doel is om de natie opnieuw op te bouwen; met Gods hulpe een opvoedingstelsel te verkrijgen voor het volk door de stem van het volk; de moedertaal van het natie is zijn heilige erfenis."
Later is die doelstelling soos volg saamgevat:
"Ons strewe om die behoud van die Suid-Afrikaanse volk op geestelike, verstandelike en stoflike gebied te bevorder tot eer van God."
Die SAVF was vanaf die stigtingsdatum vir al die jare onder 'n blanke regering die erkende pionier op die welsyngebied van Transvaal. Die eerste inrigtings vir hulpbehoewendes is deur die SAVF opgerig:
Armstrong Berning-Sentrum in 1905;
Tehuis vir bejaardes in 1910;
Tehuis vir laag-besoldigde meisies in 1929.
In die opvoeding en onderwys is die voortou geneem met die eerste Huishoudskool in 1910;
Opleidingskool vir vroedvroue in 1918;
Afrikaanse kleuterskool 1940;
Naskoolsentrum 1960;
Eerste Plattelandse kinderhuis in SA 1959.
Die SAVF het die eerste distriksverpleegster op die platteland aangestel. Hierna volg gesondheisklinieke en kraaminrigtings.
In samewerking met die Departement van Arbeid, is die eerste beskutte-arbeidsprojekte in Pretoria, aan die Rand en op Potchefstroom begin. Die SAVF was ook 'n voorloper met die aanstelling van opgeleide maatskaplik werkers en was veral 'n baanbreker met die toepas van die groepwerkmetode en ouerleidingsaksie in Suid-Afrika.