1914: UITBREEK VAN REBELLIE

KULTUURDAGBOEK 22 OKTOBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die uitbreek van die gewapende Afrikanerprotes van 1914 tot 1915 het twee grondoorsake gehad. Aan die een kant het 'n oorweldigende meerderheid Afrikaners in verset gekom teen die besluit van die Unie-Parlement dat Duits-Suidwes-Afrika vir die Britse Ryk verower moes word. Aan die ander kant het 'n groot aantal Afrikaners, wie se vryheid hul in 1902 wederregtelik ontneem is 'n geleentheid gesien om hul republikeinse onafhanklikheid te herstel. Spontaan sou veral die Afrikaners van Noord-Vrystaat en Wes-Transvaal teen die opkommandeer van manskappe protesteer.

Met die bedanking van genl CF Beyers as hoof van die Verdedigingsmag uit protes teen die regeringsbesluit, en die ongelukkige doodskiet van genl JH de la Rey wat geen ongeluk was soos die regering dit wou afmaak nie maar koelbloedige moord, het die spanning hoog geloop.

Met die oorstap van genl Manie Maritz na die Duitsers op 9 Oktober, was die breekpunt feitlik al bereik. Genl CR de Wet en Afrikanervoormanne het nou die leiding geneem om protesvergaderings te reël.

Op 22 Oktober 1914 is 'n vergadering by Koppies belê om te besluit wat hulle te doen staan. Onseker en koersloos word die saak in die hande van genls Beyers en De Wet gelaat. 'n Paar weke later bevind albei hulle in die veld met uiters swak bewapende protesterendes, teenoor die oormag van genls Botha en Smuts se magte.

In 'n agtervolging van genl Beyers verdrink hy op baie verdagte wyse in die Vaalrivier. Genl De Wet probeer na Suidwes vlug maar hy word naby die Botswanagrens gevange geneem. Intussen voeg genl Kemp met 600 man, ná 'n epiese tog deur die Kalahari, hom by Maritz maar hulle word uiteindelik op 24 Januarie 1915 by Upington deur regeringstroepe verslaan.

Ten noorde van Pretoria het genl JJ Pienaar en Jopie Fourie opgetree. Met laasgenoemde se gevangeneming en fusillering in Desember 1914 (waartydens Smuts wie genader is om die doodstraf ter syde te stel, weggekruip het tot ná Jopie se dood), is alle gewapende verset in die binneland beëindig. Die sowat 12 000 rebelle is in tronke en kampongs by Kimberley en Booysens aangehou terwyl die leiers in die Johannesburgse Fort opgesluit is. Genl De Wet, genl Kemp en ander is swaar boetes en gevangenisstraf opgelê, maar binne ‘n jaar is verskeie leiers se tronkstraf hulle kwytgeskeld.

Die regeringsbeleid en –optrede tydens en ná die Rebellie het tot groot bitterheid aanleiding gegee. Dit het ook daartoe bygedra dat die Nasionale Party met rasse skrede sou vorder in sy opkoms totdat hy aan bewind gekom het.