1900: WH COETZER – ONTWERPER VAN KUNS IN VOORTREKKER- MONUMENT

KULTUURDAGBOEK 9 NOVEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Willem Hermanus Coetzer is op hierdie dag in Tarkastad gebore. Vanaf sy 17e jaar is hy in Johannesburg ook as koetsbouer opgelei. Sy kunsopleiding het hy veral in Londen gehad. Ná verskeie oorsese reise waartydens hy meesal per fiets gereis het, keer hy in 1930 na Suid-Afrika terug. Hier het hy bekendheid begin verwerf met sy kuns en ontwerpe van historiese aard. Hy doen eers historiese navorsing, veral oor die Voortrekkers, versamel Africana en bring al hierdie elemente in sy kuns tot uiting.

Die Simboliese Ossewatrek van 1938 bied vir Coetzer uitstekende geleentheid in hierdie verband; hy ontwerp talle voorwerpe wat tydens die feesjaar gebruik is soos gedenkseëls, eetgerei en boeke. Maar veel belangriker in dié tyd is ontwerpe vir die marmerfriese en sogenaamde tapisserieë (eintlik is dit wolborduurwerk) vir die Voortrekkermonument in Pretoria.

Die vyftien panele in die Monument bied nie alleen 'n breë oorsig van die geskiedenis van die Groot Trek nie maar wys ook Coetzer se besondere kennis van die Voortrekkers, hul waens, gebruikersvoorwerpe, kleredrag, trekgewoontes, ensomeer.

In die dramatiese komposisies van tonele soos die Bloukransmoorde en die tog oor die Drakensberge kom Coetzer se histories-monumentale styl, soos ook in 'n hele aantal skilderye verder uitgewerk, baie duidelik na vore.

In 1965 is 'n Spesiale Erepenning deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns aan Coetzer toegeken vir sy historiese kunswerk, Coetzer was verder veral as landskapskilder en etskunstenaar bekend.