KULTUURDAGBOEK 10 NOVEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
By die Sinodesitting van die Kaapse NG Kerk in 1919 is op voorstel van dr BB Keet besluit dat Afrikaans naas Hollands op die kansel gebruik kan word. Daar is ook besluit om met die medewerking van ander NG Kerke en die twee susterskerke, naamlik die Gereformeerde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk, daadwerklik aandag te gee aan die vertaling van die Bybel in Afrikaans.
Dit was egter nie die eerste besluit wat in diƩ verband geneem is nie; die Vrystaatse Sinode van die NG Kerk het reeds in Mei 1916 op voorstel van dr NJ van der Merwe 'n derglike besluit geneem.
Voorafgaande hieraan was daar 'n rypwordingsproses. Die Eerste Taalbeweging het grootliks ontstaan met die doel om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Ds SJ du Toit het verskeie proewe van so 'n vertaling gepubliseer. Dit het egter weens die eienaardige spelling en ander faktore nie inslag gevind nie.
Vanaf 1906 het twee jong studente op Stellenbosch, nl Tobie Muller en Bennie Keet, hulle beywer vir 'n Afrikaanse vertaling van die Bybel. Later het NJ van der Merwe hom by hulle aangesluit.
As proponent en later as hulpprediker op Stellenbosch, het dr Tobie Muller dit gewaag om in die CJV-saal in Afrikaanse vir studente te preek. Hy is deur die kerkraad verbied om dit verder te doen. Die groot deurbraak vir Afrikaans in die kerk het gekom met die verskyning van die Bybel in Afirkaans in 1933.
In 1937 het Totius se Berymde Psalms in Afirkaans verskyn, en in 1944 is die Afrikaanse Psalm- en Gesangboek in gebruik geneem.