1855: AANLEG VAN PRETORIA

KULTUURDAGBOEK 16 NOVEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Pretoria, genoem na kmdt-genl Andries Pretorius, het sy aanleg as hoofstad van die ZAR te danke aan die feit dat Potchefstroom en Lydenburg nie sentraal genoeg geleë was vir die vergaderings van die Volksraad nie. Die kommandante-genenaal MW Pretorius en Piet Potgieter het die Volksraad, wat in September 1853 in Lydenburg sitting gehad het, versoek om 'n sentraal geleë hoofstad vir die Republiek te stig.

MW Pretorius  het in 'n bygaande brief die Volksraad ook versoek om vir die doel van die voorgestelde dorp twee plase aan die Apiesrivier naamlik Elandspoort en Daspoort, van Andries van der Walt en JJP Prinsloo aan te koop. Omdat die Volksraad sy versoek geweier het, het Pretorius vervolgens self hierdie twee plase gekoop.

In 1854 het ds D van der Hoff toe 'n gemeente op die plaas Elandspoort gestig. Die Volksraad het hierdie stap in Junie 1854 goedgekeur.

Op 16 November 1855 besluit die Volksraad om 'n dorp, onder die naam Pretoria, op die twee vermelde plase aan te lê.