1939: FAK EKONOMIE INSTITUUT GESTIG

KULTUURDAGBOEK 17 NOVEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die FAK is op sy eerste Ekonomie Volkskongres, wat van 3 tot 5 Oktober 1939 in Bloemfontein gehou is, versoek om 'n Ekonomie Instituut in die lewe te roep om uitvoering te gee aan die kongresbesluite en om sodanige verdere stappe te doen as wat hy bevorderlik ag vir die ekonomiese opheffing van die Afrikaner – 'n benarde ekonomiese toestand waarin die Afrikaner daardie tyd verkeer het.

In die Instituut is verteenwoordiging gebied aan die FAK se Uitvoerende Komitee en sy Ekonomiese Kommissie, en aan Afrikaanse finansiers, nyweraars, handelaars, boere, arbeidersorganisasies, universiteite en handelsopleidingskolleges en die Armesorg-organisasies van die Afrikaanse kerke.

Die sekretariaat van die Instituut is deur die FAK hanteer. Nog 'n opdrag aan die Instituut was die beheer oor die Reddingsdaadfonds, wat in 1938 met die Simboliese Ossewatrek op aandrag van dr JD Kestell gestig is.

Op sy eerste vergadering op 1 Desember 1939 het die Ekonomie Instituut sy eerste ampsdraers en dagbestuur aangewys: prof LJ du Plessis (voorsitter), prof N Diederichs (ondervoorsitter), mnr IM Lombard (penningmeester), dr PJ Meyer (sekretaris), dr GEN Ross, dr Albert Hertzog en dr TE Dönges.

Op 8 Desember 1939 het die dagbestuur 'n omvattende volksorganisasie gestig – die Reddingsdaadbond – wat geleidelik losstaande verenigings in hom sou opneem of waarby bestaande liggame ingeskakel kon word. Die Reddingsdaadbond het in 1956 ontbind en sy bates aan die Ekonomie Instituut oorgedra.

Die Instituut het die ekonomiese opheffing van die Afrikaner in die wydste sin aangepak en komitees gestig vir kapitaalkrag, landbou, spaar- en arbeidskrag, vryetydsbesteding, verbruikers- en volksorganisasies, armesorg, navorsing, voorligting, beurse, studielenings en handelsopleiding.

Van die bakens wat die Ekonomie Instituut geplant het, het later as reuse in die SA ekonomie gestaan: Federale Volksbeleggings, die finansieringsmaatskappy wat in opdrag van die Volkskongres deur dr MS Louw tot stand gebring is, en die Afrikaanse Handelsinstituut, wat op 24 Augustus 1942 gestig is met sy eerste bestuur onder leiding van mnr JG van der Merwe as voorsitter en dr MS Louw as ondervoorsitter - later in 1974 was  Andries Stockenström die president en ene doktor Pretorius die hoofekonoom.

Die Ekonomie Instituut het bly voortbestaan tot op 21 Desember 1965, toe dit ontbind en al sy eie bates aan die FAK oorgedra is.