KULTUURDAGBOEK 18 NOVEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
Johanna Brandt, die jongste dogter van ds NJ van Warmelo, is op hierdie dag op Heidelberg gebore waar sy ook haar kinderjare deurgebring het. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog het sy en haar moeder hulle in Pretoria bevind waar hulle nĂ¡ die besetting van die Hoofstad deur die vyandelike magte, gehelp het om die Boerespioenasiediens aan die gang te hou.
Van haar ondervindings in hierdie tyd het Johanna 'n dagboek gehou wat sy later verwerk het in haar bekende boek, Die Kappiekommando, wat in 1913 verskyn het.
Tydens die oorlog was sy ook verpleegster in die Irene-konsentrasiekamp.
Die smart en ontberings van die vroue en kinders het haar so aangegryp dat sy The Irene Concentration Camp in 1904 geskryf het.
Na die oorlog is sy met ds LE Brandt, 'n Nederlandse predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk, wat hom in Transvaal kom vestig het, getroud.
Johanna Brandt het 'n lewende belangstelling in die openbare lewe gehad. Onder haar leiding word op 21 Julie 1915 in Johannesburg die "Vrouwen Nationale Party" gestig, wat spoedig landwyd uitgebrei het.
In 1916 dien sy in die hoofbestuur van die Nasionale Vroueparty, en sy ontvang in hierdie jaar ook die ere-presidentskap van die Party.
Sy het verskeie ander boeke geskryf, onder meer oor natuurgenesing, waarin sy 'n besondere belangstelling gehad het, en ook twee romans.
Sy is op 29 Januarie 1964 op 88-jarige ouderdom in Kaapstad oorlede.