1951: 1e GOUDSTAAF GEGIET

KULTUURDAGBOEK 24 NOVEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Waar eens mielielande en 'n rustige, landelike atmosfeer was, is op hierdie dag die eerste goudstaaf in Welkom gegiet – vyf jaar nadat die ontdekking van goud in die OVS op 16 April wêreldkundig gemaak is.

Hierdie reuse nywerheidsgebied is deur kol. Deneys Reitz onder andere soos volg beskryf: "As kind het ek op die kruin van Koppie Alleen ten noorde van die huidige Welkom gesit en na die wildoortrekte vlaktes onderkant my gekyk. En nou soos toe, het daar groot troppe wild, bokke en wildebeeste aan die voet van die heuweltjie gewei..."

Die avontuurlike soektog en die goudbore het binne enkele maande die idilliese rustigheid in 'n sentrum van bedrywigheid omskep.

Waar Welkom voorheen die naam van 'n mooi, rustige plaas was, het die ryk goudneerslae die enkele plaashuise tussen die mielielande en die troppe beeste en wild verdryf om plek te maak vir goudboortorings, skagte en newe-nywerhede wat onmiddellik soos paddastoele opgeskiet het.

Teen Augustus 1950 was duisende huise reeds gebou en teen Januarie 1951 die eerste twee woonstelblokke. Die wildoortrekte vlaktes het eensklaps 'n reuse nywerheidsgebied geword.