KULTUURDAGBOEK 5 DESEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
Die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party is amptelik op hierdie dag gestig deur die samesmelting van genl JBM Hertzog se Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party van genl JC Smuts. Samesmelting is deur 'n periode van samewerking tussen hierdie twee partye voorafgegaan ooreenkomstig die wil van 'n groot meerderheid kiesers in 'n algemene verkiesing op 17 Mei 1933. Die samesmelting het egter weer 'n verdeling sowel onder Afrikaans- as Engelssprekendes tot gevolge gehad naamlik die Malangroep en die Stallardgroep.
Die voortsetting van die Nasionale Party deur dr DF Malan, dr NJ van der Merwe, adv CR Swart en adv JG Strijdom het met verloop van tyd die betekenisvolste gebeurtenis blyk te wees.
Die Malaniete of Gesuiwerdes het van die standpunt uitgegaan dat die Afrikaner nog slegs die eerste rondte in die stryd teen Engelse oorheersing gewen het. Daar was nog konstitusionele kwessies wat opgelos en imperialistiese simbole wat uit die weg geruim moes word. Die stryd sou eers beëindig wees met die verkryging van onverdeelde lojaliteit van Suid-Afrikaanse burgers en die totstandkoming van 'n Republiek.
Die Tweede Wêreldoorlog en die verwerping van Hertzog se neutraliteitsmosie in die Parlement het onder meer bewys dat hy die houding van die Engelssprekende in die Suid-Afrikaanse politiek verkeerd vertolk het, en dat nasionalisme teenoor imperialisme nog steeds 'n verdelingsfaktor was.
Dr Malan het geblyk die reg te hê, en die Nasionale Party slaag daarin om weer voldoende Afrikanersteun te verwerf en die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party in 1948 te verslaan. Die Verenigde Party het daarvandaan al hoe meer steun verloor, ook van Engelssprekendes, en in 1977 ontbind.