1823: PRES JH BRAND

KULTUURDAGBOEK 6 DESEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Johannes Hendricus Brand is op hierdie dag in Kaapstad gebore. Hy was advokaat, politikus en Staatspresident van die Oranje-Vrystaat, waartoe hy op 2 Februarie 1864 ingehuldig en vier keer herkies is.

Hy is die vader van die slagspreuk:
'Alles sal regkom as elkeen sy plig doen'.

As diplomaat het hy  volhardend die goeie saak van die Vrystaat probeer bevorder, die ekonomie probeer versterk, sy burgers te velde in die Basoeto-oorloĆ« bygestaan en bemoedig, die diamantkwessie versigtig en korrek gehanteer, konsuls in Europa en die VSA aangestel en voordelige traktate van handel en vriendskap met verskeie Europese state gesluit.

Op sy standbeeld in Bloemfontein staan die woorde: "Vader des Volks", wat die betekenis van sy lang presidentskap opsom.

Hy was 'n fynbeskaafde leier, bedeeld met groot wysheid, 'n geliefde gesinsman, gasvry en van Christelike wandel. Hy is in die amp van die Staatspresident op 14 Julie 1888 in Bloemfontein oorlede.

JH Brand het 'n geslag waardige Afrikaners verteenwoordig wat deur die jare heen die beste vir hulle eie mense vanuit 'n eie sterk posisie gelewer het.