1880:ZUID-AFRIKAANSCHE REPUBLIEK OP PAARDEKRAAL HERSTEL

KULTUURDAGBOEK 13 DESEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Daar was meer as 5 000 burgers met sterk perde, blink geweerlope, bandeliere vol patrone en bladsakke gepak met beskuit en biltong op hierdie dag op 'n rantjie bymekaar op die plaas waar genl Andries Pretorius ongeveer 30 jaar vroeƫr met perde begin boer het.

Ernstige beraadslagings het 'n paar dae geduur. Die burgers was gereed en bereid om vir die onafhanklikheid en vryheid van hulle vaderland te veg nadat sir Theophilus Shepstone die Zuid-Afrikaansche Republiek op 12 April 1877 onverwags geannekseer het.

Die eise op verskeie groot protesvergaderings en die werk van twee deputasies na Engeland was tevergeefs.

Spontaan het die burgers ingewillig om van honderde plase en talle dorpe af vir die laaste keer bymekaar te kom want daar sou nou daadwerklik opgetree moes word. Dit was by hulle 'n saak van diepe erns wat uit 'n groeiende nasionalisme voortgespruit het.

Daar is onder meer besluit dat vise-president Paul Kruger die Volksraad byeen moet roep. 'n Driemanskap is aangewys om die landsbestuur te behartig met Heidelberg as die voorlopige setel; 'n proklamasie vir die herstel van die regering is uitgevaardig, en dit moes op Potchefstroom gedruk word; kommando's moes na die grens en ander strategiese plekke gaan.

Al die burgers het hulle instemming met die besluite betuig deur elkeen 'n klip op 'n hoop te pak. Elf jaar later is die Paardekraalmonument op daardie plek by Krugersdorp onthul.