16 DESEMBER: OPROEP VIR ONS AFSPRAAK MET DIE HERE

GELOFTEDAG DEUR DIE EEUE...

EN 'N NUWE GELOFTE

Jeanette Koekemoer

"Op daardie tyd wanneer Hy ons weer vry maak van die verknegters wat ons volk daagliks vermoor en vermink, sal ons ook 'n nuwe gelofte nodig kry, een waarin al die ou beloftes teenwoordig bly maar waarin ons ook onderneem om ons geliefde vaderland van alle afgodsdienste en onheilige gebruike te reinig sodat ons as volk weer heilig en opreg voor God kan wandel, en nooit, maar nóóit weer, sal omdraai na ons pad van selfvernietiging nie. Indien ons dit nie sou belowe nie, en dit ook nie nakom nie, sou die hele pad van ellende onder 'n moordbende tevergeefs wees."

Die Slag van Bloedrivier was nie sodanig die botsing tussen wit en swart nie as wat dit die verheffingsuur van 'n wordende volk was wat sy hoogste bestaansreg en voortbestaansgeleentheid in die hand van God geplaas het. Dié herdenking wat ons binnekort op 16 Desember vier is steeds die nakom van 'n afspraak met die Here.

Volgens Wet nr 3 van 1910 was 16 Desember as openbare vakansiedag bevestig, en sedert 1952 is dit as Geloftedag bekend, hoewel dit intussen ook die lelike naam Dingaansdag, en ook Dankdag, Wendag, Retiefdag, Voortrekkerdag en nog ander name genoem is.

Na aanleiding van die militêre sukses op hierdie dag teen die Zoeloes deur die Voortrekkers behaal, het Geloftedag sedert 1838 'n besondere plek in die Afrikaner se volkslewe beklee. By honderde oorde word elke jaar feeste van uiteenlopende aard aangebied. Al daardie enkelinggroepe vorm saam 'n ontsaglike Gelofteskaar. Die afgelope paar jaar het as voorbeeld die groeiende opkoms by die Voortrekkermonument die vyftienduisendtal oortref. Die foto hier op Geloftelandwebwerf in die hoek regs bo, is 'n getuigskrif van die opkoms daar in 2007.

Dit is dan ook betekenisvol dat die viering van Geloftedag die afgelope paar jaar weer meer omvangryk nagekom word as in die negentigerjare, en veel meer as in die negentiende en grootste gedeelte van die twintigste eeu. Die rede vir die afgelope jare se groeiende opkoms is ooglopend die bekommernis oor die stelselmatige uitwissing en voortdurende verknegting van die Afrikaner onder die hiel van 'n swart kommunistiese owerheid. In die negentiende tot die twintigste eeu was daar ook 'n interessante eb en vloed oor die jare maar dit was 'n meer gematigde tyd in ons landspolitiek as tans, met  lae misdaadsyfers, 'n meer stabiele ekonomie en oor die algemeen minder bekommernisse oor die toekoms van ons volk – was dit Paulus wat gesê het wanneer dit met die liggaam goedgaan, dit met die hart sleggaan...

Binnelandse politieke woelinge het deur die jare die goeie gees van Geloftedag beïnvloed, maar die godsdienstige, kultuurhistoriese inslag het darem telkens weer oorheers, soos dit ook die afgelope jare die geval is. Partypolitiek speel nie meer dieselfde rol as vroeër in Geloftedagvieringe nie. Dit blyk al meer dat Afrikaners bymekaar kom om 'n gees van eenheid te soek en te bewerk – 'n gesindheid wat ontstaan as gevolg van die onderdrukking van 'n godlose vreemde owerheid. Die behoefte van die Afrikaners om weer Geloftedag te wil vier blyk duidelik die wyse waarop God besig is om ons volk weer op ons knieë voor Hom te bring.  Die humanistiese lewensbeskouing wat deur lang jare geleidelik die Calvinistiese Christelike uitkyk belemmer het, het sy tol van ons volkseenheid geëis maar die Here is besig om hierdie toestand om te swaai deur middel van die heidense regering wat Hy oor ons toegelaat het.

Op sekere plekke het 'n besondere tradisie in die viering ontstaan, soos by Paardekraal aan die Wes-Rand en die Groote Schuurlandgoed in Kaapstad. Hoogtepunte in die verlede was die Geloftedagvieringe tydens die Tweede Vryheidsoorlog, die feeste van 1915 ná die Rebellie-onrus van 1914-1915, die onthulling van die monument by Klerksdorp in 1920 ter gedagtenis aan die gestorwenes van die konsentrasiekampe, die toenemende feeste daardie tyd by ons buitelandse ambassades sedert 1928, die Eeufeesjaar van 1938 en die onthulling van die Voortrekkermonument in 1949 deur dr DF Malan. 'n Kwartmiljoen mense was om twaalfuur die middag byeen toe die sonstrale op die senotaaf geval het. Daar het 'n krag van die Afrikaner uitgegaan, en talle Engelstaliges het erken dat slegs die Boer so fees kan vier.

Die FAK het vroeër, voordat dit ook deur infiltrasie 'n volksvreemde organisasie geword het, 'n besondere rol gespeel om die viering in die korrekte lig te stel deurdat programvoorbeelde beskikbaar gestel is, toespraaktemas jaar vir jaar voorgestel is en die ware gees van die Gelofte sterk onderstreep het.

Sedert 1949 dateer egter ook die groeiende kritiek op die blanke en hulde aan eie historiese leiers deur veral liberale asook swart politici. Op Geloftedag word daar deur honderde sprekers na verskeie volks- en landskwessies verwys, word daar die afgelope jare reeds van kansels af gepreek oor versoening en die aansporing tot 'n reënboognasie, word die Afrikaner beleuen en verwar oor die posisie wat hy as volk van God beslaan – daardie Godgegewe plek waar Hy self sy volk geplaas het, en word daar steeds in koerante sogenaamd besin oor die doel van Geloftedag. Daarom is dit verblydend dat die oproep vir Geloftevieringe steeds vasstaan, en dat daar weer eendragtigheid onder volksgenote begin kom.

Ek wil ook 'n beroep op elkeen doen dat hulle hul nie deur die media met sy liberale en kommunistiese uitlatings moet laat mislei nie, en dat elke volksgenoot binne homself die saak moet uitmaak en uit die as opstaan om weer vir God die volk te word wat Hy wil hê, sodat Hy weer vir ons die God sal wees soos Hý dit vir ons wíl wees. Dán sal Hy 'n wonderwerk oor ons bring soos ons nog nooit gesien het nie - 'n wonderwerk wat die gebeure by Bloedrivier sal oorskadu, en wat nooit, maar nóóit weer deur enigeen wat dit aanskou vergeet sal word nie.

Geloftedag word nie meer soos vroeër oor 'n hele paar dae lank gevier nie maar dit dien nog steeds as 'n noodsaaklike geestelike wapenskou, as bron van historiese kennis, as oomblik van Afrikaner-volkseenheid, as beeld van die bedreiging en vervaltekens van die eie tyd, en is 'n oproep om gelowig op die Here te vertrou totdat Hy op sy tyd, die enigste regte tyd, ons volk in hierdie land sal herstel.

Op daardie tyd wanneer Hy ons weer vry maak van die verknegters wat ons daagliks vermoor en vermink, sal ons ook 'n nuwe gelofte nodig kry, een waarin al die ou beloftes teenwoordig bly maar waarin ons ook onderneem om ons geliefde vaderland van alle afgodsdienste en onheilige gebruike te reinig sodat ons as volk weer heilig en opreg voor God kan wandel, en nooit, maar nóóit weer, sal omdraai op ons pad van selfvernietiging nie. Indien ons dit nie sou belowe of nie nakom nie, sou die hele pad van ellende onder 'n moordbende tevergeefs wees.

Dit is vir ons belangrik om in alle opsigte gereed te maak vir daardie dag, en daarom heg ek 'n voorbeeld van 'n nuwe gelofte hier aan vir kommentaar van ons lesers. Dit is uit die pen van ds Andrè van den Berg, een van ons gereelde skrywers hier op Gelofteland. U word vriendelik genooi om u siening en moontlike voorstelle daaroor te stuur aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

 

DIE NUWE GELOFTE

Ons staan hier voor die Heilige, Drie-enige God, Beskikker van volke en nasies, aan Wie alle mag in die hemel en op die aarde behoort,

Om aan Hom ‘n nuwe gelofte te doen en te pleit dat Hy ons volk van ‘n gewisse uitwissing sal red en ons vyande, soos die Mideaniete van ouds, sal verskrik en verdelg.

Ons onderneem om uit dankbaarheid hierdie dag elke jaar soos ‘n Sabbatdag deur te bring en ons nageslag daartoe op te roep.

Ons onderneem om hulle van God se reddende ingryping te vertel en hulle gedurig te vermaan om tot sy Eer te leef.

Verder onderneem ons om ons geliefde vaderland van alle afgodsdienste en onheilige gebruike te reinig sodat ons as volk heilig en opreg voor God kan wandel.

Die eer en die verheerliking van sy Naam sal ons eer en hoogste strewe wees.

Mag die almagtige, barmhartige God ons genadig wees!