KULTUURDAGBOEK 17 DESEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
In Mei 1884 het die Zuid-Afrikaansche Republiek met Portugal 'n soort finale reƫling oor 'n spoorlyn van Delagoabaai af na Pretoria bereik. Die ontdekking van goud aan die Rand in 1886 het so 'n spoorlyn gebiedend gemaak. Maar Natal wou 'n spoorlyn verder van Kimberley af na Johannesburg verleng. Spoorverbindings het dus 'n ekonomiese en politieke magsfaktor geword.
Paul Kruger het verkies om met die Portugese saam te werk omdat hulle los was van Brittanje en omdat so 'n spoorlyn vir Transvaal groter voordele ingehou het. 'n Roete oor die Vrystaatse gebied het natuurlik vir mede-Afrikaners voordeel in gehou maar was nog altyd 'n Britse-Kaapse spoorlyn.
In 1887 het Kruger en pres Brand tevergeefs gepoog om mekaar oor spoorroetes te vind. In 1888 het die Vrystaat toegestem dat die Kaapse spoorlyn tot by Bloemfontein verleng word; onder meer uit vrees dat die Vrystaat uiteindelik deur alle spoorroetes uitgeskakel sou word.
In Maart 1889 het pres Kruger en pres Reitz egter saamgestem dat geen spoorlyn noord van Bloemfontein toegelaat sou word sonder die Vrystaat se goedkeuring nie. Die feestelikhede te Bloemfontein, toe die Kaapse spoorweg tot daar voltooi is, het dus met heelwat politiek-ekonomiese manipulasie vooraf en agter die skerms gepaard gegaan. Vir die eerste keer in die geskiedenis van Suid-Afrika was soveel staatshoofde en ander verteenwoordigers of hoogwaardigheidsbekleƫrs by 'n enkele geleentheid saam. Van hulle het bome ter herdenking van die geleentheid geplant, en dit staan vandag nog in die tuin van die ou Goewermentsgebou, wat later die tuiste van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige museum en Navorsingsentrum geword het.