KULTUURDAGBOEK 19 DESEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
Kmdt-genl Andries Hendrik Potgieter is op hierdie dag in die distrik Graaff-Reinett gebore. Deur hardwerkendheid het hy mettertyd die plaas Kommandodrif aan die Tarkarivier in die distrik Cradock bekom. Hoofsaaklik vanweë die verydeling en verbittering wat deur die Britse Oosgrensbeleid gewek is, het Potgieter, wat eintlik by sy tweede naam Hendrik bekend was, die Kaapkolonie teen die einde van 1835 verlaat. Aanvanklik het sy trek uit familielede bestaan maar later aansienlik aangegroei onder meer deur die aansluiting van Sarel Cilliers se groep.
Teen die middel van 1836 het die laer by Bloudrif aan die Sandrivier gestaan. Van daar het Potgieter 'n besoek aan Louis Tregardt in die Soutpansberg gebring.
Tydens sy afwesigheid het die Trekkers hulle oor die grasvlaktes tot aan die Vaalrivier versprei. Dit het Matebele-aanvalle uitgelok wat op die feitlik totale uitwissing van die Liebenbergfamilie uitgeloop het.
Die Slag by Vegkop op 16 Oktober 1836 het hierop gevolg – 'n veldslag waarin Potgieter se bekwame en kalme leiding en voortreflike krygsvernuf bygedra het tot die feit dat 'n veertigtal Boere meer as 6 000 Matebeles met geweldige lewensverlies teruggedryf het. Verdere botsings met die Matebeles by Mosego en Kapain het die terugdrywing van die Matebeles tot anderkant die Limpopo tot gevolg gehad.
Vanweë sy selfstandigheidsgees en stugheid het hy moeilik met ander Voortrekkerleiers saamgewerk. Hoewel Potgieter op die Trekkervergadering van 2 Desember 1836 as laerkommandant gekies is, is hy na die aankoms van Piet Retief nie weer tot die regering verkies nie. Dus, begerig om ver weg te kom van die Britse owerheid en ook na sy omstrede deelname aan die Vlugkommando in Natal in April 1838, het Potgieter hom in die Oorvaalse gebied gaan vestig waar hy Potchefstroom aangelê het.
Daarna woon hy agtereenvolgens op Andries Ohrigstad en Schoemansdal, Soutpansberg, waar hy dan op 16 Desember 1852 oorlede en begrawe is.
Potgieter was by uitstek daarvoor verantwoordelik dat die Transvaalse grondgebied deur die Voortrekkers bewoon kon word.