1880: SLAG BY BRONKHORST- SPRUIT

KULTUURDAGBOEK 20 DESEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Ten einde die Britse garnisoen in Pretoria te versterk, is 'n afdeling van die voetsoldate, 94e Regiment bestaande uit 263 offisiere en manskappe, gelas om onder bevel van lt-kol Philip Anstruther, van Lydenburg na Pretoria te gaan. Die Boerekrygsraad het egter besluit dat hierdie opmars verhinder moet word aangesien 'n konsentrasie van Britse troepemagte in Pretoria vir die Boere 'n lastige situasie kon skep. Gevolglik is komdt Frans Joubert (Frans Held) van Paardekraal na 'n posisie oos van Pretoria gestuur om Anstruther se opmars te stuit.

Toe Joubert met sowat 200 man op 20 Desember 1880 met Anstruther se afdeling in aanraking kom, het die Engelse reeds tot aan die Honderivier by Bronkhorstspruit gevorder.

'n Sekere Paul de Beer is daarop met 'n brief na Anstruther gestuur waarin hy versoek is om nie sy opmars voort te sit nie. Toe Anstruther weier om gehoor te gee het Joubert tot aanval oorgegaan.

Die Slag by Bronkhorstspruit, vier dae na die uitbreek van die Transvaalse Vryheidsoorlog, het die eerste groot slag van diƩ oorlog geword. In 'n geveg wat slegs enkele minute geduur het, is die Britte feitlik heeltemal uitgewis, terwyl Anstruther self kort na die geveg aan sy wond oorlede is.