1880: KRYGSWET 'MARTJIE LOUW'...

KULTUURDAGBOEK 21 DESEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die gebruik om deur vervorming van 'n persoon se naam of 'n gebeurtenis, dikwels met 'n bewuste ironiese bedoeling, daardeur 'n persoon se aansien en status te verlaag of aan te dui welke afkeer daar jeens iemand bestaan, kom ook in die Suid-Afrikaanse geskiedenis voor. Dit is veral so wanneer die burgers direk geraak is, byvoorbeeld deur anneksasie.

Rondom die anneksasie van ZAR in 1877 en die daaropvolgende Vryheidsoorlog het heelwat van hierdie volksetimologieë ontstaan en was dit veral Britse amptenare en militêre gesagvoerders wat die voorwerpe van Afrikaner-ironie was. Ná die onverwagte anneksasie van die ZAR deur sir T Shepstone in 1877, verwerf hy die naam Duiwel-se-Slypsteen of Die-ou-vuilis-slypsteen.

Die Kaapse goewerneur en Britse hoë kommissaris, sir Bartle Frere, wat na die Kaap gestuur is om die federasie van Suider-Afrika ná 1877 te bewerkstellig, is na verwys as Bottelbier, terwyl WE Gladstone, Britse premier tydens die Vryheidsoorlog van 1880 tot 1881, Gladsteen genoem is.

Owen Lanyon, wat met die uitbreek van die oorlog administrateur van Transvaal was en om verskeie redes ongewild was, het die naam Ouwyn Langjan, gekry.

Op 20 Desember 1880 het 'n kommando onder kmdt Frans Joubert die Britse troepe onder lt-kol PR Anstruther, beslissend by Bronkhorstspruit verslaan. By ontvangs van hierdie nuus het Lanyon op 21 Desember 1880 krygswet (martial law) oor die hele Transvaal afgekondig – 'n daad waaraan die burgers, met klaarblyklik weinige ontsag daarvoor, die meisienaam Martjie Louw gegee het. Ook Britse amptenare en militêre gesagvoerders in die Tweede Vryheidsoorlog het deurgeloop.

Met die uitbreek van die oorlog is sir Redvers Buller as hoof van die Britse magte in Suid-Afrika aangestel – spoedig was hy hier te lande bekend as Rooiversbul.

Lord Roberts het Bullet opgevolg en hier is, na aanleiding van sy militêre suksesse in Kandahar, Indië, na hom verwys as ROBERTS VAN KANDAAR IS NIE ROBERTS VAN KAN-HIER.  Ná die oorlog toe die repatriasie van Boere-krygsgevangenes aan die gang was, is daarna verwys as rypatrys.