1831: 1e UITGAWE GRAHAM'S TOWN JOURNAL

KULTUURDAGBOEK 30 DESEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

In 1820 het die Britse Setlaars 'n houtpers met hulle saamgebring, maar die owerheid wat gevrees dat daarmee die openbare mening aan die Oosgrens verenig kon word, het die pers gekonfiskeer. 'n Tydlank is dit vir regeringspublikasies in Graaff-Reinet gebruik totdat Louis Henri Meurant dit op 'n veiling in 1831 gekoop het.

Op 30 Desember 1831 het die eerste uitgawe van die Graham's Town Journal verskyn en gou sou dit in die omgang tot die 'Setlaar's Bybel' gedoop word. As die enigste koerant tot 1840 buite die Kaapse Skiereiland, het dit as die spreekbuis van die Oosgrens se blankes 'n groot invloed gehad.

Juis vanweë die blad se kritiese houding jeens die Kaapse owerheid het dit 'n besondere rol gespeel om die griewe van die Oosgrensboere in woorde gestalte te gee.

Hierin het Piet Retief in Januarie 1837 sy bekende manifes laat verskyn, en het die Voortrekkers deur private briewe, reisigersverslae, smouse, ens, nuus aangaande hulle vordering, wense en teenslae aan die beskaafde wêreld bekend gemaak. Dit is juis in die Graham's Town Journal dat ons oor die Slag by Bloedrivier lees. As 'n tydgenootlike bron oor die Groot Trek en die Oosgrenssake troon die Graham's Town Journal ver bo die ander nuusblaaie uit.