KULTUURDAGBOEK 14 JANUARIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Hendrik Andries Hanekom, en sy eggenote van Mathilde, is allerweë beskou as van die belangrikste baanbrekers op die gebied van die Afrikaanse beroepstoneel. Hy is op 17 Junie 1896 op Beaufort-Wes gebore en op hierdie dag in Januarie 1952 oorlede. Hy was een van die eerste Afrikaners wat 'n heeltydse toneelspeler geword het.
In 1924 het Hendrik sy werk as stadsklerk op Lydenburg laat vaar en het hy en Mathilde 'n toneelgroep gestig. Hulle eerste opvoering het op 16 September 1925 plaasgevind: 'Oom Gawerjal se dogters en die stemregkoors.' Daarna het hulle die lang pad aangedurf en meer as 25 jaar lank alle uithoeke van ons land besoek met toneelstukke soos Oorskotjie, Die Uur van vergelding, Die Silwerkoning. Onskuldig veroordeel, Oom Paul, Generaal De Wet, Hans die Skopper, Ds Snuffelaar, en Die Stille Haard.
Oom Paul was ongetwyfeld hulle grootste sukses. In hierdie opvoering het Hendrik 'n grootse vertolking van die Presidentfiguur gelewer, en die stuk is byna drie jaar lank dwarsdeur die Republiek en Suidwes-Afrika voor geesdriftige gehore opgevoer.
Hulle bydrae tot die Afrikaanse toneel word in 1945 beloon toe die eerste Erepenning vir Toneel deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan die egpaar Hanekom toegeken is.
Hendrik Hanekom het in 1937 ook deelgeneem aan Tamboere in die Nag, die eerste vervolgverhaal wat in Afrikaans deur die SAUK uitgesaai is.
Hulle was albei lede van die Nasionale Toneelorganisasie in die jare 1948 tot 1950, en Hendrik sal veral onthou word vir sy rol as Just, die Jobsfiguur in 'Nag het die Wind gebring', en die beminlike ou speurder in Oupa Brompie, wat in hierdie tyd deur die geselskap opgevoer is.
Terwyl hy in 1951 besig was met die instudering van Die Koopman van Venesië waarin hy die rol van Shylock sou vertolk, het Hendrik siek geword en hy is in die Strand oorlede.
Met sy dood is die Hanekom-geselskap ontbind maar Mathilde het tot 1966 voortgegaan om af en toe vir Nasionale Toneel en die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste te speel. Sy is op 29 Desember 1976 in Pretoria oorlede.