KULTUURDAGBOEK 21 JANUARIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Op 'n vergadering van 5 Desember 1917 in die ou Royal Hotel in Kaapstad beplan sewe manne die Afrikaner se daadwerklike toetrede tot die ekonomiese stryd en word daar besluit om 'n Afrikaanse maatskappy te stig wat alle vorme van trustwerk en versekering kan hanteer. Die betrokkenes was mnr CG Fichardt (voorsitter), WA Hofmeyr, CR Louw, PA Malan, FH Dormehl, AFJ Bennning en A MacDonald (sekretaris).
'n Voorlopige direksie word gekies en hulle aanvaar op 21 Januarie 1918 die naam Suid-Afrikaanse Nasionale Trust- en Assuransiemaatskappij Beperk (SANTAM).
'n Week later verskyn 'n gedrukte prospektus, en 200 000 aandele van R2 elk word aangebied.
Op 28 Maart 1918 word Santam as maatskappy geregistreer. In 1953 word die trust- en versekeringsbedrywighede geskei en Santam-Versekeringsmaatskappy Beperk word op 29 Julie 1953 geregistreer. Die oorspronklike geregistreerde naam word op 25 Oktober 1966 verander in Santam-Bank Beperk.
Santam betree ook ander gespesialiseerde finansiële terreine soos die aksepbankwese, die groeifondswese en die herversekeringswese, stig die eerste lugvaartversekeringsmaatskappy in Suid-Afrika en lê hom toe op internasionale finansies.
In 1978 vind ooreenkomste met die Bankbeheerkorporasie van Suid-Afrika plaas, en verskeie bankbelange word saamgesnoer in 'n vergrote Santam-bank Beperk, met die voortsetting van die afsonderlike versekeringsbelange in Santamversekeringsmaatskappy Beperk. Santam het ook geglo ook dat dit die handel en nywerheid se taak is om daadwerklik en positief by te dra tot die kulturele, opvoedkundige en morele welsyn van die gemeenskap waaruit hy sy bestaan geput het, en het in 1963 begin om jaarliks 'n wedstryd vir kinderkuns aan te bied waarvan inskrywings op sy kalenders afgedruk is.