KULTUURDAGBOEK 27 JANUARIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Ná die stigting van Duits-Oos-Afrika (Tanganjika) en Brits-Oos-Afrika (Kenia), is blanke emigrante uit Suid-Afrika ter wille van die ontwikkeling van die gebiede in Oos-Afrika verwelkom. Talle georganiseerde groepe het ná die Tweede Vryheidsoorlog na Oos-Afrika getrek.
In 1903 het die sogenaamde landsoekers-ekspedisie onder PC Joubert en sy broer. genl D Joubert, van Machadodorp vertrek op 'n verkenningstog, veral na Duits-Oos-Afrika. Hulle kom op 27 Januarie 1903 in Dar-es-Salaam, Tanganjika aan.
Na baie ontberings waartydens genl D Joubert gesterf het, het die groep met 'n ongunstige rapport teruggekeer. Nogtans het trekkers spoedig na Oos-Afrika begin trek: bittereinders en verbitterdes wat weier om onder die Britse vlag in Suid-Afrika te lewe; avonturiers wat die vryheid en wydsheid van 'n ongerepte land gaan opsoek het... 'joiners' en 'national schouts' wat ontvlugting gaan soek het.
In Julie 1905 kom 'n groot aantal gesinne, onder meer dié van Stephanus Trichardt, kleinseun van die trekkerleier Louis Trechardt, saam met PC Joubert in Tanganjika aan. Hulle het die Afrikaanse taal, kultuur en godsdiens in Midde-Afrika gevestig en jare lank in stand gehou.