1901: GENL DE WET TREK KAAP BINNE

KULTUURDAGBOEK 10 FEBRUARIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Teen die einde van Januarie 1901 het genl. De Wet besluit om die Kaapkolonie vir die tweede keer binne te val, om sodoende alle gerugte dat die oorlog verby is, die nek in te slaan. De Wet, vergesel van pres. Steyn, begin sy tog by Doornberg, by Winburg, op 26 Januarie 1901. Kitchener was vasbeslote om De Wet hierdie keer gevange te neem en organiseer die grootste van alle De Wet-jagtogte.

Knox, Plumer en talle ander Britse bevelvoerders word gebruik om die Oranjerivier of Norvalspont ooswaarts te beset.

De Wet ontduik die Britte en gaan self weswaarts, waar hy op 10 Februarie 1901 Zanddrift, noordwes van Philippolis, die Kaapkolonie intrek. Toe Knox en Hamilton op 12 Februarie by die drif aankom, moes hulle vasstel dat De Wet hulle weer eens kul het. Van alle kante is Britse troepe gebring om hulle op De Wet toe te spits. Die gedenkwaardige Kaapse tog, wat vol skitterende moed en volharding was, het begin. De Wet kon nie die koers inslaan wat hy beplan het nie en moes voortdurend van rigting verander. Sy besondere krygsoordeel, -vernuf en -vermoë om in krisissituasies koel en bedaard te bly, is by uitstek beproef.

Die elemente van die natuur was egter 'n groot struikelblok in hierdie inval. 'n Groot droogte en sprinkaanplae het veroorsaak dat daar weinig gras vir die perde was. Geweldige reëns het gesorg dat die Oranje- en Caledonrivier in vloed was en het veld en vleie in modderpoele verander. Met veel ontbering is manskappe en perde verby Philipstown, Strydenburg, Hopetown en Petrusville. Telkens wanneer'n dorp ingeneem is, het die koloniale burgers, nieteenstaande krygswet, inligting aan die kommando verstrek en hulle van perde en voedsel voorsien. Sommige rebelle het dit ook gewaag om by die kommando aan te sluit. Knox het die verwoede jagtog voortgesit.

De Wet het telkens die burgers met die beste perde posisie laat inneem om die agterhoede te dek. Op merkwaardige wyse is hulle, in die nag, deur Moddervlei, maar hulle word uiteindelik tussen die Oranje- en Brakrivier, wat in vloed was, vasgekeer. Op vernuftige wyse het De Wet weer eens sy teenstanders uitoorlê. Hy besef egter dat hy in hierdie omstandighede dit nie lank in die Kaapkolonie sal kan uithou nie en besluit om teen die einde van Februarie terug te gaan na die Vrystaat. Hoewel hierdie inval the juis 'n militere sukses was nie, het De Wet 'n strategiese sukses behaal. Groot was die verleentheid toe die Britse parlement op 14 Februarie 1901 open en dit bekend word dat De Wet en sy manskappe op Britse grondgebied gestaan het.