Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Niks is so vernietigend as om nie te kan vergewe nie. As jy die skerp klip van wrok en haat in jou hart dra sal jy bedruk en magteloos voel. Om te vergewe is 'n vorm van kreatiwiteit. En dat jy kán vergewe, is genade, die bewys van oorwinning – oor die vlees, groter as alle ander soorte oorwinnings!
1688: EERSTE HUGENOTE LAND AAN DIE KAAP
Lees volledig by Kultuurdagboek
KULTUURDAGBOEK 13 APRIL
Vir die klein Kaapse nedersetting was die jaar 1688 van groot betekenis. Met die koms van die Franse vlugtelinge is die geledere van die koloniste versterk en het die Calvinistiese godsdiens 'n verdere versterking en stukrag ondergaan. Die Hugenote het hulle vaderland in 1685 verlaat nadat die Edik van Nantes herroep is en hulle aan meedoënlose vervolging, vernietiging van hul kerke, ens, blootgestel is. Die bewindhebbers van die VOC het van die geleentheid gebruik gemaak om 'n aantal van hierdie Protestantse vlugtelinge na die ylbewoonde Kaapkolonie te stuur. As vlugtelinge was die Hugenote vanselfsprekend brandarm, en slegs deur geloof, deursettingsvermoë en onvermoeide ywer het hulle die eerste moeilike jare oorleef. In die vallei van die Bergrivier het hulle hul gevestig, veral in die boloop van die rivier, in die 'Fransche Hoek'.
Die Hugenote was soos die Hollandse koloniste, Calviniste, maar in sterker graad.
Frankryk was immers die land van oorsprong van die Calvinisme, waarvoor die Hugenote bereid was om soveel op te offer. Waar die Calvinisme in Nederland 'n onskatbare aandeel gehad het in die geloofskrag, moed, vertroue en standvastigheid van sy mense, het die Hugenote hierdie eienskappe aan die Kaap onteenseglik versterk. Die godsvertroue in 'n almagtige en liefdevolle vader, wat 'n wesenskenmerk van die Afrikaner se geloof vorm, het dus hier sy beslag gekry.
Die Hugenote het sekere karaktertrekke van die Nederlander aan die Kaap versterk. Hulle was gesteld op godsdienstige, maatskaplike, politieke en persoonlike vryheid. Geen wonder dus dat hulle aangedring het op 'n eie gemeente, eie predikant en 'n eie skool nie. Toe goewerneur Simon van der Stel dit weier, is 'n versoekskrif aan die Here Sewentien gestuur sodat die Hugenote in 1691 'n eie gemeente, Drakenstein, gekry het met ds Pierre Simond as leraar. Die onderwyser en sieketrooster was Paul Roux.
In die stryd teen goewerneur WA van der Stel en die uitbuiting van die koloniste deur die amptenare van die VOC, het die Franse hul lot by dié van die Hollandse koloniste ingewerp en 'n hoëmate van sedelike en fisieke moed aan die dag gelê. Ook die praat- en redenaarsliefde van die Franse word by die Afrikaner aangetref – vandaar sy voorliefde vir beroepe soos dié van advokaat, predikant en politikus.
Van die Fransman word gewoonlik gesê dat hy verstandig, nugter en prakties is. Hierdie eienskappe het die Afrikaner-pionier inderdaad goed te pas gekom op die afgesondere boereplase. Hoewel nie van adellike herkoms nie, was die Hugenote afkomstig uit die beskaafde burgery, bekend vir hulle hoflike maniere. Die omgewing waar die Hugenote hulle gevestig het, het bekend geword vir die wellewendheid, statige huise en meubels en smaakvolle kleredrag van die bewoners. Op stoflike gebied het die Franse se kennis van die wyn- en brandewynmakery, vrugtekwekery en verskeie ambagte die Kaap tot groot voordeel gestrek.
Vandag staan daar in Franschoek die indrukwekkende Hugenotemonument ter ere van ons Hugenote-stamouers en hulle aangedeel in die volkswording van die Afrikaner.