KULTUUR- DAGBOEK 14 APRIL

Lees volledig by Kultuurdagboek

1838: VERENIGING VAN DIE VOORTREKKERS BY DOORNKOP

Doornkop, geleë in die nabyheid van Chieveley, het 'n belangrike rol in die geskiedenis van die Trekkers in Natal gespeel. Dit was dié plek waar die Trekkers vir die eerste keer werklik verenig het. Ná die moord op Retief en sy geselskap en die daaropvolgende slagting onder die Trekkers, het Gert Maritz die klein laertjies, wat oor 'n groot gebied versprei was, en ook sy eie laer, na Doornkop, die staanplek van die hooflaer van Piet Retief, verskuif.
Piet Uys en Hendrik Potgieter het hulle kort daarna, op versoek van Maritz, by die res van die Trekkers kom voeg. Die Trekkers was dus in hierdie stadium in drie laers by Doornkop georganiseer, te wete dié van Maritz, Retief en Piet Uys. Potgieter se kommando het in twee groepe verdeel en by die laers van Maritz en Retief onderskeidelik ingeskakel.


Die Voortrekkers in Natal was nou werklik eendragtig bymekaar. Die sending van Uys en Potgieter teen Dingaan, wat op 'n nederlaag by Italaberg uitgeloop het, het die Trekkers weer tot vertwyfeling en moedeloosheid gestem. Dit was hier waar die vroue van tou-opgooi en terugkeer na die Kaapkolonie niks wou weet nie, en Maritz vasgestaan het deur bewuste steun by individuele persone en klein groepies Trekkers verder agtertoe te soek.
Weens die gevaarlike toestand wat nou vir die Voortrekkers ontstaan het, het daar op 14 April 1838 'n verdere mate van vereniging plaasgevind toe al die Trekkers in net twee laers verenig het, naamlik dié van Maritz en Modderlaer. Enkele weke voordat omstandighede die Trekkers weer uitmekaar laat gaan het, het die twee laers aan die bo-loop van die Bloukransrivier in die omgewing van Doornkop bly staan. só verenig was hulle waarskynlik nooit vóór hierdie tyd en ook nooit weer daarná nie.