KULTUURDAGBOEK 24 MEI
Lees volledig by Kultuurdagboek
Ten midde van genl JC Smuts se anti-Afrikaner-veldtog as Britse spioen, lid van die binnekring van die Round Table en ’n selferkende Britse Israeliet, bly hy deel van 'n belangrike tydvak in ons volk. Politieke kenners bespreek na reeds meer as een geslag na sy dood steeds sy betekenis in ons geskiedenis.
Jan Christiaan Smuts is op 24 Mei 1870 op Boplaas, Riebeeck-Kasteel, gebore. Ongetwyfeld een van die slimste Afrikaners en van die veelsydigste, maar hy het sy bynaam, Slim Jannie, egter nie soseer aan sy intellektuele bekwaamheid te danke nie, wel aan sy aangepaste politiek en sy systappies daarbinne.
Sy lewe is verdeelbaar in twee gelyke, indien geheel uiteenlopende dele:
Die eerste 40 jaar tussen 1879 en 1910 as Afrikanerpatriot, raadgewer en vertroueling van pres Paul Kruger, Boeregeneraal, medestigter van die eerste Afrikaanse politieke party in Transvaal en argitek van die Unie van Suid-Afrika.
In die tweede deel, tussen 1910 en 1950 as onderdrukker van sy eie mense in die Rebellie en die opstand by die myne; as vername deelnemer aan die wêreldpolitiek; eers as lid van die Britse Oorlogskabinet, as Britse generaal en afgevaardigde na die Paryse Vredeskonferensie, toe as mede-stigter van die Britse Gemenebes, later as veldmaarskalk en raadgewer van die Geallieerdes in die Tweede Wêreldoorlog en eindelik as mede-oprigter van die Volkebond en in laaste instansie die Verenigde Volke-organisasie.
Jan Smuts se grootste tekortkoming uit die standpunt van eie geledere was nie 'n gebrek aan liefde vir die Afrikaner nie maar vervreemding van sy strewe. Hoewel hy enduit Afrikaans in sy huis gehandhaaf het, het hy weinig belangstelling vir die taal of kultuur van die Afrikaner geopenbaar. Dié volksvervreemding het op die uiteinde in 1948 sy politieke ondergang bewerkstellig en hom in sy laaste dae groot ontnugtering en selfs verbittering op die hals gehaal.
Die hoë onderskeiding wat hy oorsee in twee mensegeslagte geniet en die roem wat hy veelal in oorlogstye verwerf het, het nie vir die laaste leegheid vergoed nie. Daar word dikwels beweer dat Smuts se talente te groot vir sy eie klein landjie was. Stellig was die buitelandse erkenning en aanwending daarvan verantwoordelik vir sy opsyskuiwing van Suid-Afrika se probleme. Sy kritici meen dat sy bydrae tot die oplossing van Suid-Afrika se vraagstukke, ook dié van die verskillende rasse, na verhouding klein was. Tog het sy liefde vir die Suid-Afrikaanse nasie en bodem tot aan sy dood op 12 September 1950 sy innigste besieling gebly.