Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dankie Almagtige Vader, dat ek nie my brandstof van mense hoef te kry nie maar dit direk by U deur u liefde ontvang. U liefde dra my, maak my kragtig, soveel so dat ek dit ook aan my medemens kan uitdeel.
WAT SÊ DIE BYBEL OOR MENSEREGTE?
MENSEREGTE
Wetgewers, owerhede en teoloë praat dikwels op nasionale en internasionale vlak oor menseregte. Dit het as’t ware die taal van die internasionale gemeenskap geword, ’n taal wat almal verstaan, selfs oor godsdiensgrense heen. Christen, Boeddhis en Moslem praat almal van menseregte.
Vir baie het dit as’t ware ’n nuwe godsdiens geword. Dit word aanvaar dat almal vandag regte het, selfs mense wat gruwels soos homoseksualisme bedryf. Dit laat gelowiges ongemaklik met menseregte voel. Het mense regte?
Is dit nie selfsugtig om op regte aanspraak te maak gesien in die lig dat gelowiges hulself eerder moet verloën nie? “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Mt.16:24).
Wat sê die Bybel oor menseregte? Dis nie ’n Bybelse begrip nie, maar ’n regsbegrip. In die Bybel is daar geen woord wat regstreeks met regte vertaal kan word nie. Die woord wat die naaste daaraan kom, is regsaak.
In Spreuke word koning Lemeul byvoorbeeld aangemoedig om vir die regsaak van die ellendiges op te kom: “Maak jou mond oop vir die stomme, vir die regsaak van almal wat wegkwyn” (Spr.32:8). God praat by geleentheid met Juda: ” Reg verskaf hulle nie, selfs die reg van die wees nie…. ook handhaaf hulle die reg van die behoeftiges nie” (Jer.5:28).
In die Bybel word reg egter nooit as ’n hefboom gebruik om mag te verkry of om ongeoorloofde beheer oor mense uit te oefen nie. Dit het altyd met goddelike opdragte te doen. Die mensdom moet voordeel uit die verpligtinge wat God se Woord hulle oplê, put. Anders gestel, gehoorsaamheid aan God se Woord moet vir almal wat rustig wil leef, voordelig wees. Daarom is daar owerhede: “Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy nie die mag vrees nie, doen wat goed is en jy sal lof van hom ontvang” (Rom.13:4).
Maar wat verstaan die Bybel onder reg? Waarom wil God dit hê? Sodat mense in gehoorsaamheid aan God se Woord rustig kan leef. Gevolglik verskil dit wat vandag met menseregte bedoel word, ingrypend van die Bybel se idee van regte. Die skepsel word bo die Skepper gedien (Rom.1:25).
In die Bybelse tyd was die mensdom nie so humanitêr gerig soos vandag nie. Hulle het nie eens ’n primitiewe vorm van ’n Handves van Menseregte gehad nie. Al wat hulle gehad het, was die Woord van God. Mense het gehoorsaam aan die Woord van God onderlinge reg en geregtigheid laat geskied. Dit wat God gesê het, was genoegsaam soos dit vandag nog steeds behoort te wees!
Die Grondwet van Suid-Afrika bevat ’n Handves van Menseregte, iets wat voorheen onder ʼn Christenregering glad nie bestaan het nie. Die handves omskryf sekere basiese regte waarop elke burger aanspraak kan maak asook regte wat hom nie ontneem mag word nie soos die reg op menswaardigheid, vryheid van spraak, gelykheid voor die reg ens. Hierdie regte het ook ’n sekere rangorde. Sommige is belangriker as ander. So is die reg op lewe belangriker as dié op vryheid van spraak.
Die probleem met hierdie handves is dat dit suiwer mensgerig is. Nêrens word God se Woord geag of selfs aangehaal nie. Waaroor dit in die eerste plek opgestel is, kan net bespiegel word. Vir nugterdenkende mense lyk dit met die eerste oogopslag na ’n verskansing teen verantwoordelikhede. Mense eis regte, sonder om die nodige verantwoordelikhede te aanvaar.
Dit lê ongelowiges wat vryheid wil hê, maar geen verantwoordelikheid wil aanvaar nie na aan die hart. Op ’n vasteland met te veel vryheidstandbeelde en te min verantwoordelikheidstandbeelde het die Handves van Menseregte as’t ware evangelie geword!
Die Bybel swyg egter nie oor menseregte nie maar praat net anders as ongelowiges daaroor. Ongelowiges glo dat die mens met sekere onaantasbare regte gebore word. Daarenteen sê die Bybel dat die mens slegs regte het wat God aan hom toeken. Hy is slegs waardig omdat God waardigheid aan hom toeken. Hy durf nie enige regte of waardigheid aan homself toeken soos die Handves van Menseregte doen nie.
God gee nie eens aan die staat onbeperkte mag nie. Die staat moet sy taak in verantwoordelikheid teenoor Hom vervul. In die boeke van Moses sowel as dié van die profete gee God aan gelowiges telkens opdrag om die regte van armes, weduwees, wese en vreemdelinge te beskerm. Dis een van die redes waarom die Bondsvolk in ballingskap gegaan het - hulle het hierdie regte vertrap!
Die mens beskik as beelddraer van God oor menswaardigheid. Dis egter nie iets wat hy verwerf het nie, maar iets wat aan hom verleen word (Ps.8). Omdat God alle mense na sy beeld geskape het, moet hulle mekaar as sy handewerk eerbiedig.
Daarbenewens praat die Bybel nie van regte nie maar van pligte. Feitlik elkeen van die Tien Gebooie begin met die woorde: “Jy mag nie...” Dis alles pligte wat regte voorafgaan. “Jy mag nie doodslaan nie” sê dat ’n mens die reg op lewe het.
Mense mag nie ten koste van verpligtinge klem op menseregte lê nie. Wie nie verpligtinge aanvaar, moenie op regte aanspraak maak nie! Regte en verpligtinge gaan saam. Oral waar regte in die samelewing oorbeklemtoon en verpligtinge onderbeklemtoon word, loop dinge skeef.
Regte het ook bepaalde perke. Niemand het volstrekte regte nie. Regte mag ook nie met God se gebooie bots nie. Die sogenaamde reg op aanvraag na aborsie bots byvoorbeeld met die sesde gebod “Jy mag nie doodslaan nie” .
Mense besit nie regte bloot omdat hulle mense en nie diere is nie, maar omdat regte ’n geskenk van God is wat verantwoordelik gebruik moet word. Gelowiges het nie regte van hul eie nie, maar behoort aan Jesus. “Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees… en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop...” (1 Kor.6:19,20). Sien ook Heidelbergse Kategismus Sondag 1. Vraag en antwoord 1.
Die aanklank wat die Handves van Menseregte onder volksgenote vind, is aan die misplaaste ywer van verraderlike politici en ontspoorde kerklui te wyte. Na die prysgawe van die Christengrondwet het ’n veranderingsmanie die kerk, politiek en kultuur beetgepak. Alles wat in die ou bedeling eerbaar en goed was, moes ter wille van verandering verander.
Die Handves van Menseregte is selfs in 1996 in die nuwe grondwet opgeneem om kwansuis rassevrede te verseker. Dit was onnodig en gevolglik tevergeefs. Gelowiges het niks anders as die Bybel met die Tien Gebooie as riglyn vir ’n vreedsame samelewing nodig nie. Wie dit gehoorsaam, leef in vrede. Wie dit minag, leef in vrees, soos sedert 1994 in die land gebeur!
Samelewings word tans wêreldwyd volgens die beginsels van menseregte georden. Owerhede, kerke, ekonomiese instellings en sosiale instansies word volgens hul handhawing van menseregte beoordeel. Onderwysinstellings word selfs ingespan om heidense owerhede te help om ’n menseregte-kultuur te vestig.
Ons land het sedert sy eertydse grondwet geskrap is, in ’n tipiese Grieks-heidense denkwyse verval. Die Grieke het geglo dat die mens selfstandig genoeg is om te weet wat reg en verkeerd is en dus meer as bevoeg is om owerheidgesag in te stel. Heidenregerings doen tot vandag toe nog weg met die Bybelse grondslag dat God owerheidsgesag ingestel het.
Humaniste glo dat die mens genoeg verstandelike vermoëns het om oplossings vir probleme vir sy bestaan op aarde te vind, sake te bestendig en selfs te verbeter. Alle mense is kwansuis gelyk en derhalwe op sekere regte geregtig. Hulle vorm op grond van ʼn konsensus ’n regering en verleen daaraan die nodige gesag om te regeer. Kragtens Art.36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis moet ʼn regering die Christelike godsdiens bevorder. Die Handves van Menseregte minag dit in alle tale!
Die Handves van Menseregte het geen Skriftuurlike begronding nie. Dis in werklikheid skadelik! Dit stroop die staat van sy waarde en waardigheid en verskraal dit tot ’n belangegroep met ’n skeidsregter-funksie ten einde burgerlike konflik te vermy of te ontlont.
In Suid-Afrika word daar nie meer op grond van die Skrif regeer nie, maar deur wetgewing wat aan die hand van die Handves van Menseregte getoets word. In die praktyk kom dit daarop neer dat daar nie deur wette nie, maar deur regte regeer word! Die Hooggeregshof het byvoorbeeld die reg om alle bestaande wetgewing aan die hand van die Handves van Menseregte te toets en selfs nietig te verklaar indien dit die regte van individue skaad.
Daarom geniet dinge soos homoseksualisme tans regte. Daar is selfs ʼn jaarlikse 'Pink Day'-saamtrek waar duisende verlorenes uitdagend met Gay rightsplakkate in die strate loop!
Wat kan ons aan hierdie situasie doen? Ons sal God se Woord baie dringend en duidelik moet laat hoor. Kerke praat heidene toenemend na die mond. Dit help nie om ’n dun Bybelse sousie oor ʼn onsmaaklike politieke pastei te gooi nie. Verander die resep!