WAT IS 'N SIKLOON?

Sikloon vanuit die Internasionale RuimtestasieDaar is min verskynsels in die natuur wat met die verwoestingskrag van ’n tropiese sikloon vergelyk kan word. Dit is gister weer gesien toe een van die kragtigste siklone in menseheugenis die kus van Queensland in Australië gister getref en bome ontwortel, dakke afgewaai en vloedgolwe van tot 2 m hoër as die normale getyvlak veroorsaak het. 'n Sikloon word dan ook nie verniet die grootste storm op aarde genoem nie, hoewel die sogenaamde tornado (super-werwelwind) heelwat kragtiger op ’n gegewe punt is. Maar tornado’s se omvang en reikwydte is natuurlik baie kleiner en veel meer gelokaliseerd, terwyl die draaikolke van tropiese siklone oor honderde kilometers kan strek. Hiervan kan dr. Henriëtte van der Westhuizen en haar man, Heinrich, wat van Suid-Afrika kom, getuig nadat hulle die heelnag op internet gekyk en gesien het hoe die sikloon Yasi die kus nader. Die weerburo het op ’n Au­straliese webwerf berig Yasi het van ’n kragtige kategorie 5-sikloon effens verswak toe dit die kusdorp Mission Beach tussen Innisfail en Cardwell, suid van Cairns, omstreeks middernag (16:00 Suid-Afrikaanse tyd) getref het. Daar word verwag mense gaan in die “verskriklike pad” van Yasi sterf namate dit die binneland in beweeg. Sowat 4 0000 mense in die laagliggende kusgebiede het hul huise gister verlaat en is in een van 20 skuilings in dorpe aan die kus gehuisves. Hospitale is ontruim. Meer as 4 000 soldate is op ’n gereedheidsgrondslag geplaas omdat 'n sikloon van hierdie omvang  om die minste te sê ontsagwekkend is. Daar is al bereken dat die energie wat dit kan vrystel gelyk kan staan aan die krag van 10.000 kernbomme!

Boonop kan dit selfs gebeur dat tornado’s hier en daar deur tropiese siklone opgewek word weens die chaotiese toestande wat in sulke ontsaglike atmosferiese maalkolke heers.

Terwyl die tropiese sikloon in ons wêrelddeel—en ook onder meer in Indië en Australië—in die reël ’n sikloon genoem word, staan dit in die Amerikas bekend as ’n orkaan. In Engels heet die orkaan ’n "hurricane", afgelei van Huracan, ’n god van boosheid van ’n ou Sentraal-Amerikaanse inboorlingstam. In ander wêrelddele het die tropiese sikloon weer ander name. In die gebiede van die westelike Stille Oseaan en Chinese See word dit ’n tifoon genoem en in die Filippyne ’n baguio. Om nog meer verwarring te skep, praat die Amerikaners boonop van hul tornado’s as siklone!

Hoe ook al, om ’n tropiese silkoon te probeer verstaan, moet ’n mens allereers begryp wat wind is. Die lug om ons heen is selde indien ooit heeltemal stil. Dit beweeg feitlik altyd—horisontaal oor die aardoppervlak heen, asook op en af. Bewegende lug word wind genoem, soos almal weet.

Maar lug beweeg eintlik om die wanbalans te herstel tussen verskillende gebiede waar daar verskillende hoeveelhede lug is. Omdat die aarde voortdurend om sy as wentel en kol-kol minder of meer deur die son verwarm word, ontstaan daar lugmassas met verskillende digthede. Die lug in ’n lugmassa met groot digtheid (hoë lugdruk) beweeg altyd na ’n gebied met ’n kleiner digtheid (lae druk).

By ’n laagdrukstelsel kolk die wind rondom die laagdruksentrum, van buite af binnetoe. By ons in die Suidelike Halfrond maal die wind regs om, dws saam met die horlosiewysers kloksgewys. In die Noordelik Halfrond gebeur dit net mooi andersom.

Nou gebeur dit baiemaal in die tropiese breedtes van die aardbol dat die drukverskil tussen die kern en die lugmassas aan die buitekant só groot is dat hierdie tropiese siklone of orkane vernietigende windsterktes bereik.

Tropiese siklone is verskynsels wat oor geweldig groot gebiede kan voorkom. Hulle kan aanvanklik minder as 100 km breed wees, maar kan selfs tot ’n deursnee van 800 km aangroei. Dit gaan gepaard met hewige winde van omtrent 120 km/h en selfs tot byna 300 km/h. Verbasend genoeg heers daar ’n rare kalmte in die sentrum van die sikloon—’n betreklik stil en wolklose gebied van tussen 10 en 30 km wat die oog genoem word. Met die wind se besonder vinnige draaibewing word daar naamlik ’n middelpuntvliedende krag in werking gestel wat die lug en wolke na buitentoe uitdruk.
Tropiese siklone ontstaan slegs in die trope, naby die ewenaar, waar uiters vogtige lug en hitte oor die see gekonsentreer is. Die watertemperatuur moet sowel bedags as snags minstens sowat 27 grade Celsius wees.

Die verdamping van die warm water maak die lug baie vogtig, en winde wat in verskillende rigtings oor die see waai, begin massas warm, vogtige lug na mekaar toe druk. Hierdie verskynsel word konvergensie genoem.
Wanneer die lugmassas bots, begin die lug in die middel opstyg en word ’n sterk stygwind gevorm. Hoog in die lug verkoel die vogtige lug van die stygwind en ontstaan piepklein druppeltjies water. Hierdie waterdruppeltjies vorm wolke.

Groot donderwolke begin saampak en donderstorms ontwikkel. Nog donderstorms ontstaan namate meer konvergensie en nog stygwinde voorkom. As die donderstorms hulself nie uitwoed nie, kan hulle met verdrag soos ’n hele bende omgesukkelde nukkebolle begin saamheul. Só ’n formasie word dan ’n tropiese steuring genoem.
Nog baie donderstorms sluit hulle by die steuring aan, en hierdie weerverskynsel raak groot genoeg om beïnvloed te word deur kragte wat deur die wenteling van die aarde om sy as opgewek word. Die tropiese steuring begin spin en word ’n draaikolk van donderstorms.

Stygwinde trek voortdurend nog meer lug in die steuring in. Sodra die winde teen ’n konstante nagenoeg 40 km/h begin waai, raak die storm ’n sogenaamde tropiese depressie. Die tropiese depressie raak steeds kragtiger en word ’n tropiese storm wanneer die windsnelheid omtrent 65 km/h bereik.

Die warm, vogtige lug in ’n steuring, depressie of storm kan te eniger tyd begin "opraak" en dan sal die onstuimigheid algaande bedaar of ophou. Indien dit egter steeds hewiger raak en die windsnelheid nagenoeg 120 km/h bereik, noem ons dit ’n tropiese sikloon of orkaan.

Tropiese siklone het top-windsnelhede van minstens sowat 120 km/h, maar die wind kan tot ’n verbysterende byna 300 km/h waai.

Hoe nader ’n mens, tot op ’n punt, in die rigting van die windstil oog beweeg, hoe vinniger sal die wind wees. En wanneer die oog oor ’n waarnemer beweeg namate die kolkende monster oor die aarde aankruip, raak die chaos eers erger en dan bedaar dit skielik. Die wind verflou tot ’n bries, dit hou op reën en die blou lug daarbo word selfs plek-plek sigbaar. Maar die kalmte is van korte duur en spoedig is die storm in al sy felheid terug, hoewel die wind nou uit ’n teenoorgestelde rigting waai.

Die energie in ’n tropiese sikloon kom van die hitte wat vrygestel word wanneer waterdamp tot vloeibare water kondenseer. Die atmosfeer bokant ’n tropiese oseaan is die enigste plek waar daar genoeg warm, vogtige lug beskikbaar is om die nodige energie vir die ontstaan van ’n tropiese sikloon te genereer.

Die beweging van ’n tropiese sikloon is enigsins voorspelbaar. Dit is so massief dat dit beweeg saam met die aarde se windstrome wat dit omgeef. Hierdie windstrome is baie groot en bestendig en verander nie skielik van rigting nie. Die tropiese siklone beweeg dus gewoonlik in een van hierdie windstrome totdat hulle ’n ander windstroom bereik, en dan kan hulle straks ’n ander koers inslaan. Indien ’n tropiese sikloon van rigting verander, kan dit gebeur dat dit twee keer oor dieselfde gebied beweeg. Partykeer word die pas dae lank oor ’n sekere gebied gemarkeer.

Tropiese siklone maal egter in die reël voort op ’n pad wat met die kromming van ’n parabool ooreenstem, teen snelhede wat van 8 tot 80 km/h kan wissel. Wanneer sulke atmosferiese  maalkolke die land vanuit die see nader, kan die sterk winde met stortreën en besonder hoë branders gepaard gaan.

’n Tipiese tropiese sikloon is sowat 500 km in deursnee. Dit sou maklik ’n provinsie soos die Vrystaat kon "insluk", maar dit was tot dusver nog altyd ons oostelike provinsies en Mosambiek wat die meeste kwesbaar vir tropiese silkone was.

Die tropiese siklone in ons eie wêrelddeel ontstaan meestal oos van Madagaskar in die Indiese Oseaan en beweeg partykeer oor Madagaskar en tot in die Mosambiek-kanaal. Af en toe beweeg hulle ook oor die vasteland. DIe siklone wat die ergste verwoesting nog in Suid-Afrika gesaai het, was Demoina en Imboa, respektiewelik in Januarie en Februarie 1984.

Tropiese siklone of orkane kry hul name deurdat daar in ’n spesifieke orkaanseisoen ál met die letters van die alfabet afgegaan word vir die beginletters van die onderskeie name. Hulle het aanvanklik slegs vrouename gekry, maar dié praktyk is in die 1970’s onder druk van feministe verander met die gevolg dat hulle nou na mans sowel as vroue genoem word.

Die Wêreld- Meteorologiese Organisasie of WMO, ’n liggaam van die Verenigde Nasies, koördineer die naamgewing van hierdie gedugte weerstelsels. Daar is roterende naamlyste wat al om die ses jaar herhaal word, maar indien daar ’n bielie is wat ’n baie groot impak gehad het, word sy naam uit die spesifieke lys geskrap en vervang deur ’n naam met dieselfde beginletter.

Só het Olga in 2001 vir Opal vervang—sodat werklik besonderse orkane nooit vergeet sal word nie.